Nuus Flitse

Virtuele ondersoek na skaregedrag

Tydens noodgevalle soos terroriste aanvalle, natuurrampe en brande bestaan daar altyd die risiko dat massa-paniek kan intree, wat grootskaalse sterftes in skares kan veroorsaak.  Navorsers het deur middel van virtuele navorsing probeer vasstel wat tot massa-paniek lei en watter gevaargebiede aangespreek moet word.

Waarom lei massa-ontruiming van geboue so dikwels tot massa-vertrapping en watter areas in geboue is veral gevaarlik? Om hierdie vrae te beantwoord is 36 deelnemers aan ’n noodsituasie blootgestel in ’n driedimensionele virtuele omgewing. Elke deelnemer het op ’n rekenaarskerm ’n avatar binne ’n virtuele ruimte beheer.

Onder is ‘n illustrasie van die virtuele omgewing. (a) Die skare van 36 deelnemers wat deur ‘n bottelnek beweeg tydens ‘n eenvoudige ontruiming-situasie, soos van bo gesien. Elke deelnemer is deur ‘n deelnemer in die werklike lewe beheer, en kon vrylik genavigeer word; en (b) Eerste-persoons beskouing van dieselfde situasie, soos gesien deur ‘n deelnemer in die middel van die skare.

Die deelnemers se gedrag in die virtuele omgewing is deur navorsers bestudeer en het ooreengestem met werklike skare gedrag.  Vyf-en-negentig persent van die Europese deelnemers het mekaar byvoorbeeld aan die regterkant verbygesteek. Vorige studies het reeds getoon dat Europeërs geneig is om intuïtief regs te hou

Binne die virtuele omgewing is die deelnemers blootgestel aan die gesimuleerde noodontruiming van ‘n kompleks gebou.  Almal het nie geweet waar die uitgang was nie, maar sommige van die deelnemers is met pyle daarheen begelei.  Die deelnemers was bewus dat sommige weet waar die uitgang is, maar het nie geweet wie nie.  Om die stres vlakke verder te verhoog is tydsbeperkings en geldelike bonusse ingebring.  Daar was ook swak beligting, rooi flikkerende ligte en brande wat uitgange geblok het.

Botsings en stampe en stote het onder spanning toegeneem.  Die grootste gevaargebiede was waar besluite geneem moes word, waar bottelnekke ontstaan het en doodloop punte waar deelnemers noodgedwonge moes omdraai teen die vloei van die skare in.

Groepsdinamika het getoon dat deelnemers tydens hoë spanning-situasies en groter samedromming meer bedag was op groepgedrag en meer daardeur beïnvloed is – wat die groep gedoen het, waarheen hulle op pad was en die gevoel in die groep.  Mense is meer geneig om die groep te volg onder hierdie omstandighede, wat tot massa samedromming en gevaarlike opeenhoping kan lei.

Die bevindings wys dat menslike gedrag in ’n virtuele omgewing ooreenstem met gedrag in die werklike lewe.  Virtuele omgewings bied dus opwindende navorsingsmoontlikhede en kan byvoorbeeld deur stads- en streekbeplanners gebruik word om evakueringsplanne te toets.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1