Nuus Flitse

In die volle wete dat jy oortree teenoor onverskilligheid

Regslui bevind hul dikwels in die situasie dat hulle ‘n besluit moet neem oor geestesgesteldheid tydens die pleeg van ‘n misdaad. Oorwegend is daar vier kategorieë waaroor baie maal besluit moet word:  oortree met voorbedagde rade, in die volle wete dat jy oortree, weens onverskilligheid of weens nalatigheid. Die regsimplikasies wat met hierdie besluite gepaard gaan is gewoonlik verreikend vir die oortreder in terme van die straf wat uiteindelik opgelê kan word. Dit kan bv die verskil tussen lewenslange tronkstraf en korrektiewe toesig beteken vir ‘n oortreder indien hy daaraan skuldig bevind word dat hy geweet het dat sy optrede die dood van ‘n persoon gaan veroorsaak, teenoor dat hy iemand se dood veroorsaak het bloot omdat hy onverskillig was.

‘n Persoon word bv betrap dat hy dwelms oor internasionale grense smokkel.  Hy voer aan dat hy nie bewus was dat dit dwelms was wat hy vervoer het nie. Indien dit waar is, het dit ‘n inpak op sy kriminele aanspreeklikheid, wat uiteindelik gaan bepaal hoe swaar hy gestraf sal word.

‘n Vorige navorsingstudie het getoon dat mense wat gevra is om verskeie kriminele scenarios te beoordeel in terme van die vier moontlike geestestoestande waarin die oortreders hulle bevind het, goed kon onderskei tussen voorbedagde rade, nalatigheid en onskuld, maar hul beoordeling van of die persoon geweet het  hy oortree teenoor blote onverskilligheid was uiters swak. Die geskiedenis het ook reeds bewys dat wanneer ‘n besluit geneem moet word oor of ‘n oortreding plaasgevind het weens “in die volle wete dat hy oortree” teenoor blote “onverskilligheid”, oortreders se optrede  meestal as onverskillig beoordeel sal word, eerder as wat hy skuldig bevind sal word aan optrede in die volle wete dat hy oortree.

Navorsers het nou ‘n tegniek ontwikkel waarvolgens hulle met behulp van breinbeelding met verstommende akkuraatheid kan bepaal watter geestestoestand aanwesig was toe ‘n misdaad gepleeg is. Die resultate lewer neurale bewyse van ‘n waarneembare verskil in die geestestoestand van “kennis/volle wete dat jy oortree”, in teenstelling met “onverskilligheid”.

Tydens hierdie studie is breinskanderings gedoen op 40 deelnemers.  Hulle is gevra of hulle ‘n tas oor die grens sou neem, terwyl die moontlikheid dat dit dwelms kon bevat afgewissel is. Deur gebruik te maak van funksionele breinbeeldingstegnieke kon die wetenskaplike hul breinresponse monitor, en kon hulle akkuraat bepaal of elke deelnemer geweet het sy tas bevat dwelms en of hy onseker was daaroor.

Die navorsers het neurobiologiese bewyse gevind van ‘n waarneembare verskil tussen die geestesgesteldheid van “wete” teenoor “onverskilligheid”. Afhangend van die geestesgestelheid kan dieselfde oortreding tot bv veertien jaar tronkstraf lei, of net korrektiewe toesig, aldus Montague, een van die hoofouteurs van die studie.

In hierdie stadium word die resultate nog nie as bewysstukke in howe herken nie, maar dit vorm deel van die opkomende veld van “neuroreg”, wat neurowetenskap en wetspraktyke kombineer om hoër standaarde te verseker.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1