Nuus Flitse

Emosionele ontlading by die werk is nie n goeie idee nie!

Frustrasies in die werkomgewing, soos konflik met kollegas of laaste-minuut eise, stel jou in die versoeking om jou gevoelens helder en duidelik uit te spreek en jou emosies te ventileer. Volgens navorsers Demeroutia en Cropanzano kan dit egter die situasie vererger. Dit is baie meer doeltreffend om die daaglikse uitdagings deur middel van  “goeie sportmanskap” te hanteer. ‘n Rasionele, doelgerigte gesprek kan baie meer vermag as ongekontroleerde emosionele ontlading of klagtes wat in die hitte van die stryd verkeerd bewoord word.

Die impak van werk-stres

Meeste salaristrekkers wat ‘n tyd lank reeds in die werk staan het waarskynlik al werk-stres ervaar. Werk-stres kos maatskappy baie aangesien werknemers nie in sulke omstandighede optimaal kan presteer nie. Die impak op die individu self kan egter erger wees, aangesien hulle verminderde betrokkenheid by die werk ervaar, minder positief jeens die werk voel en selfs kan siek word. Vanuit ‘n menslike sowel as ‘n ekonomiese perspektief sou organisasies werk-stres so laag as moontlik wou hou. Om dit reg te kry is beter begrip van die veroorsakende faktore nodig. ‘n Belangrike veroorsakende faktor, wat dikwels verontagsaam word, is die invloed van klaarblyklik onbelangrike negatiewe gebeure.

Dit is te verstane dat belangrike gebeure in die lewe, soos siekte of dood van ‘n familielid, die belewing van stres sal verhoog. Die impak van daaglike gebeure wat onbelangrik lyk word egter onderskat. Drie eenvoudige voorbeelde is om ‘n fout te begaan, om onder erge laaste-minuut druk geplaas te word en om konflik met kollegas te ervaar. Hierdie gebeur veroorsaak negatiewe gevoelens en verminderde werkverrigting. Die invloed van hierdie klaarblyklik onbelangrike gebeure kan vir ten minste 24 uur, of langer, voortduur. Navorsers Demeroutia en Cropanzano van die Eindhoven universiteit van Tegnologie en die Universiteit van Colorado het ondersoek hoe die invloed van negatiewe gebeure geminimaliseer kon word.

Die studie

Demeroutia en Cropanzano het 112 werknemers uit velde soos finansies, die industrie en gesondheidsorg, gevra om vir drie dae dagboek te hou. Aan die einde van elke dag het die werknemers verslag gedoen oor die hoeveelheid tyd wat hulle daardie dag gebruik het om te kla, hoe gefokus hulle was op dit wat verkeerd was in situasies waarin hulle hul bevind het en hoe dikwels hulle berge uit molshope gemaak het. Die navorsers het ‘n lae telling as “goeie sportmanskap” beskryf.

Die werknemers moes ook aan die einde van elke dag ‘n enkele negatiewe gebeurtenis aandui, en die erns daarvan beoordeel. Ten slotte moes hulle die gemoedstemmings wat hulle gedurende die dag ervaar het aandui, bv energiek of  geïnspireerd, sowel as hulle betrokkendheid by die werk dmv items soos “Ek voel trots op die werk wat ek vandag verrig het.

Hoë sportmanskaptellings was ‘n aanduiding dat die dag se negatiewe gebeure die oorhand oor die werknemer gekry het. Dit het gepaard gegaan met  minder werkstevredeheid en ‘n nagatiewe gemoedstemming wat die volgende oggend steeds voortgeduur het, sowel as minder werkstrots wat ook tot die volgende dag voortgeduur het.

Wanneer goeie sportmanskap gehandhaaf is (‘n lae telling) – wat beteken dat die werknemer nie gekla het of negatiewe gebeure vergroot of daaroor gebroei het nie – het negatiewe gebeure nie gemoedstoestand of werkverrigting beïnvloed nie, selfs wanneer dit as ernstig beskryf is. Die navorsers skryf dit eerstens daaraan toe dat negatiewe gebeure versterk word wanneer die persoon daaroor broei, wat die negatiewe emosies laat toeneem en dit in dié negatiewe ervaring laat eskaleer. Tweedens, indien klagtes verkeerd bewoord of aan die verkeerde persoon gerig word kan dit die situasie aansienlik vererger, wat waarskynlik sal gebeur indien jy reageer terwyl die emosie nog hoog is.

Die navorsers beklemtoon dat hulle nie sê dat die werkgewer moet stilbly oor nagatiewe gebeure nie. Probleme wat keer op keer weer kop uitsteek, hetsy of dit werksverwant of verhoudingsverwant is, moet opgelos word. Onbeheersde emosionele ontlading of klagedrag verhoed ‘n persoon egter om aan te beweeg en vererger die situasie. Om probleme op te los vereis rasionele en doelgerigte gesprekvoering met die uitsluitlike doel om die probleem aan te spreek, en nie dekonstruktiewe emosionele ontlading wat niks bereik behalwe om die situasie te vererger nie. – British Psychological Society Research Digest, 2017

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1