Nuus Flitse

Innerlike dialoog of self-gesprekke is bepalend tov jou lewe

Alle mense praat soms innerlik met hulself – dit is daardie stemmetjie wat jy in jou agterkop hoor, en waarvan jy nie eens altyd rêrig bewus is nie. Maar dit wat jy vir jouself sê kan uiteindelik bepaal hoe jy jouself sien en evalueer, en kan ingrypend op jou selfbeeld en jou lewe inwerk!! Innerlike dialoog vorm en bepaal jou selfbeeld. Indien jou dialoog deurentyd bevestig dat jy waardig, sterk en goed genoeg is, gaan krag en waardigheid deur jou optrede gereflekteer word. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar – selfdialoog wat minderwaardigheid, swakheid en nutteloosheid kommunikeer gaan tot ‘n lewenstyl lei wat hierdie kwaliteite weerspiëel.

Die invloed van positiewe en negatiewe selfgesprekke op jou lewe

Internal_dialoguePositiewe selfgesprekke is opbouend en goedkeurend en kan jou produktiwiteit, interpersoonlike verhoudings en lewenskwaliteit verbeter. Dit laat jou goed voel oor jouself en jou lewe en is soos om ‘n optimistiese stem in jou kop te hê wat net altyd die ligkant raaksien! Voorbeelde is “Ek lyk soo goed in hierdie rok” of “Maggies, maar ek het hierdie situasie goed hanteer!”

Negatiewe selfgesprekke, aan die ander kant, laat jou sleg voel oor jouself en jou lewe en maak dat jy net op die negatiewe konsentreer. Dit is soos om ‘n stem in jou kop te hoor wat jou heeltyd met kritiese, kwaai en kras boodsksappe bombardeer, bv “My vet lyf lyk soo sleg in hierdie jeans”, “Ek kan nooit niks reg doen nie”, of “Ek is ‘n regte idioot!” Dit is neerdrukkend en verlammend en veroorsaak dat jy jouself bevraagteken en in jou vermoëns twyfel. Uiteindelik veroorsaak dit ‘n bose kringloop want hoe meer jy in jouself twyfel en jouself korrigeer, hoe meer laat jy andere in jou twyfel, en hulle reaksie laat jou nog meer in jouself twyfel!

Verander selfgesprekke van negatief na positief

Negatiewe en disfunksionele selfgesprekke kan al so deel wees van ‘n individu se lewe dat dit onmoontlik lyk om dit te verander. Deur sekere riglyne te volg is verandering egter wel moontlik:
Begin om ag te slaan op jou selfgesrekke. Wees altyd bedag op wat jy vir jouself sê:

  • Luister na jouself.  Maak dit ‘n integrale deel van jou lewe om te luister na jouself.
  • Evalueer die geloofwaardigheid van jou selfgesprekke. Oorreageer jy of is jou selfgesprekke irrasioneel? Maak aanpassings en herfraseer onmiddellik as jy te kras is of ooremosioneel reageer.
  • Korrigeer jou selfgesprekke deurentyd. Negatiewe insette moet deurgaans met realistiese, positiewe insette vervang word. Indien jy, nadat jy die feite na die beste van jou vermoë objektief ondersoek het, tot die gevolgtrekking kom dat jou selfevaluering irrasioneel is, vervang dit onmiddelik met insette wat die ware toedrag van sake weerspiëel.
  • Gun jouself nog ‘n kans. Indien jy na objektiewe ondersoek tot die besef dat jou krasse oordeel korrek is, stel dit in ‘n positiewe lig deur dit in ‘n leerervaring te omskep. Wees dankbaar vir die leergeleentheid, gryp dit aan, vergewe jouself en probeer om soortgelyke foute in die toekoms te vermy.
  • Gesonde selfgesprekke is werklikheidsgebonde en eerlik. Om in ontkenning te leef kan net so nadelig wees as om jouself heeltyd met negatiewe boodskappe te bombardeer. Jou selfgesprekke moet erken wanneer jy fouteer, maar sonder om afbrekend te wees en jouself te kleineer: jy kan altyd verbeter as jy uit jou foute kan leer en as jy jouself nog ‘n kans gun.

Die welbekende televisie sielkundige, Dr Phil, beveel die volgende oefeninge aan wat jou kan help om ‘n patroon van negatiewe self-dialoog te verbreek:

Oefening 1

Hou ‘n notaboek en pen byderhand en maak ‘n reeks afsprake met jouself. Vir een dag, na elke twee ure, staak waarmee jy besig is en skryf notas neer van jou selfgesprek van die agelope twee ure. Net ‘n paar minute sal voldoende wees. Skryf neer wat jy aan jouself gesê het tov:
Jou voorkoms;
Die werk waarmee jy besig was;
Jou intelligensie;
Jou bekwaamheid;
Jou vaardighede en vermoëns;
Jou waarde.
Die doel van die oefening is om insig te verky in die patroon van jou innerlike dialoog vir die duur van een dag.

Oefening 2

Verbeel jou dat jy die volgende dag ‘n belangrike voorlegging by die werk moet doen. ‘n Groot aantal belangrike rolspelers gaan teenwoordig wees. Wat gaan jy oor jouself sê? Ondersoek eerlik en deeglik die gedagtes wat deur jou kop sal gaan. Jy gaan ‘n gesprek met jouself voer. Skryf soveel as moontlik van hierdie gesprek neer.

Oefening 3

Kyk terug na jou geksrewe opdragte van oefening 1 en 2. Is daar gemeenskaplike temas en gedagterigtings wat in beide stukke voorkom? Skryf hulle neer.

Oefening 4

Wanneer jy terugkyk na jou geskrewe stukke vir Oefeninge 1 en 2, hoe sal die algemene toon van jou innterlike dialoog beskryf? Is dit positief, opgewek en optimisties? Of spreek dit van pessimisme, lamsakkigheid, willoosheid en onbeholpenheid? Is dit rasioneel? Of is dit ‘n selfverloënende gegorrel? Kan jy areas identifiseer wat besonder krities en kras klink, of wat besonder optimisties voorkom? Teken areas aan wat besonder positief of uitermatig negatief klink.

Oefening 5

Kyk weer terug na jou geskrewe werk van oefening 1 en 2. Wat sê die oefeninge oor jou lokus van kontrole? Voel jy jou lewe word beheer deur interne kragte waarvan jy in beheer is? Of is word jou lewe beheer deur eksterne faktore wat totaal buite jou beheer is. Skryf jou antwoord neer.

Oefening 6

Wanneer jy na jou geskrewe werk kyk, wat se tipe vriend is jy deur die loop van die dag vir jouself? Jy is die persoon wat elke dag die hele dag deur met jouself gesels. Wat se vriend is Jy? Skep jy vir jouself ‘n giftige, onvriendelike omgewing wat daartoe ly dat jy jou leefwêreld as toksies en onvriendelik beleef? Of kommunikeer jy aan jouself rasionele, produktiewe en optimistiese boodskappe waardeur jy ‘n optimistiese en produktiewe leefwêreld vestig?

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1