Nuus Flitse

Selfgesprekke in die derdepersoon bring emosionele kalmte

Wanneer jy saggies met jouself in die derde persoon gesels help dit jou om selfbeheer uit te oefen. Indien jy dus tydens jou selfgesprekke jou naam gebruik, eerder as om “ek” te gebruik, verhoog dit in stresvolle situaties jou vermoë om jou denke, gevoelens en gedrag te beheer.  Die rede is omdat dit afstand skep en jy gedwing word om na jouself te kyk op dieselfde wyse wat jy na ander mense kyk. 

Die gemiddelde mens glo dit is moeilik en verg baie inspanning om tydens stresvolle situasies selfbeheer uit te oefen.  Gedurende die huidige studie het die navorsers egter bevind dat daar ‘n maklike en moeitevrye roete beskikbaar is: dink aan jouself asof jy iemand anders is. Dit gebeur feitlik outomaties wanneer jy tydens jou selfgesprekke jou eie naam gebruik in plaas van “ek”. Die rede is omdat dit makliker is om objektief na andere se emosies te kyk. Omdat jy meestal aan andere in terme van hul name dink, skep jou brein outomatiese die nodige afstand wanneer jy met jouself praat asof jy iemand ander is.

Navorsers aan die Staatsuniversiteit van Michigan sowel as aan die Universiteit van Michigan  het mense gevra om hul gevoelens te beskryf terwyl hulle na afstootlike beelde gekyk het uit die International Affective Picture System. Hulle moes soms in die “ek” persoon dink, en soms in die derde persoon, deur hul eie naam te gebruik terwyl funksionele magnetiese resonansbeelding gedoen is.

Die navorsers het bevind dat wanneer deelnermers na hulself in die derde persoon verwys het, emosionele breinaktiwiteit binne die bestek van ‘n sekonde afgeneem het. Breinaktiwiteit wat verband hou met inspanning is ook gemeet, en daar is bevind dat selfspraak geen ekstra inspanning geverg het wanneer dit in die derde eerder as die eerste persoon plaasgevind het nie. In teenstelling hiermee wys Prof Jason Moser, mede-professor in die Sielkunde, daarop dat baie ander sielkundige metodes om emosie te beheer, soos selfbewussyn (mindfulness) en om op positiewe denke te konsentreer, heelwat inspanning verg.

Vervolgens is magnetiese resonansbeelding ook uitgevoer terwyl die deelnermers aan pynlike outobiografiese herinneringe gedink het, soms deur eerstepersoon verwysings te gebruik en soms derdepersoon verwysings. Weereens is minder aktiwiteit in die breinareas wat met pynlike herinneringe verband hou gevind tydens derdepersoon-selfspraak in vergelyking met eerstepersoon-selfspraak.

Luidens Prof Ethan Kross, wat die tweede eksperiment gelei het, wys die breindata van hierdie twee aanvullende eksperimente dat derdepersoon-selfspraak waarskynlik ‘n relatief inspanninglose metode van emosionele beheer verteenwoordig. Dit kan grensverskuiwende implikasies inhou vir emosionele beheer in die daaglikse leefwêreld. Meer navorsing is egter nodig alvorens dit as ‘n bewese feit aanvaar kan word.- MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1