Nuus Flitse

Sielkundige probleme by rugbyspelers na uittrede

rugby_playerDat professionele rugbyspelers aan geweldige spanning en emosionele druk blootgestel word tydens hul loopbane, is ‘n welbekende feit.  Tot dusver is min aandag egter gegee aan die erge sielkundige druk wat hulle ervaar by uit- of aftrede.

Suid-Afrikaanse rugby het eers gedurende die middel 1990’s die professionele era binnegegaan en min inligting is dus beskikbaar oor die vele uitdagings wat uitgetrede professionele rugbyspelers in die gesig staar. ‘n Ondersoek is derhalwe geloots om die aanwesigheid van algemene geestesgebreke by oud professionele rugbyspelers te ondersoek, insluitend angs, depressie, eet- en slaapversteurings en middelafhanklikheid.

Vraelyste is aan eertydse professionele Suid-Afrikaanse, Ierse en Franse rugbyspelers gestuur.  Wat Suid-Afrika aanbetref is ongeveer 500 vraelyste gestuur aan plaaslike professionele afgetrede rugbyspelers wat die afgelope 15 jaar by ten minste een van die land se provinsiale spanne gekontrakteer was.

Bykans helfte van die persone wat deelgeneem het (48%), het aangedui dat hulle twee of meer simptome van ‘n algemene sielkundige aard ervaar. Verder is bevind dat 28% van die oud-spelers aan depressie, angs of slaapversteurings ly. Bykans 1 uit 4 (24 %) misbruik alkohol terwyl 1 uit elke 6 (62%) aan eetversteurings ly.

Hetsy of professionele sportspelers skielik moet uittree as gevolg van ‘n kritiese besering en of hulle aan die einde van hul loopbaan weens ouderdom aftree, dit gaan gewoonlik gepaard met groter emosionele druk en sielkundige spanning as waaraan meeste ander beroepsmense blootgestel word. Hulle is in meeste gevalle nog relatief jonk en moet ‘n ander manier vind om ‘n lewe te maak, meestal weg van die glans van die kalklig en bewonderaars.  Media en openbare blootstelling en belangstelling neem drasties af of verdwyn heeltemal.

Professionele sportmanne bou dikwels hul selfidentiteit en eiewaarde grootliks op hul sportprestasies en die erkenning en heldeverering van hul bewonderaars.  Gevolglik hanteer hulle die ingrypende verandering moeilik wanneer hulle uit die kalklig verdwyn en dit lei dikwels tot alkoholmisbruik. Hulle ontwikkel ook eetversteurings omdat hulle nie meer so aktief is nie en dus gewig optel en fisies begin agteruit gaan.

Hierdie studie beklemtoon die behoefte aan ondersteuningstrukture vir afgetrede professionele sportmanne en -vroue.  Professionele sportmanne moet tydens hul loopbaan reeds geleer word om nie hul identiteit op hul sportprestasies te bou nie.  Hulle moet verder voorberei word op die potensiële sielkundige probleme wat met uittrede gepaard mag gaan en hulle moet geleer word hoe om hul lewensdoelwitte en selfbelewing te herevalueer wanneer hulle met die ingrypende lewensverandering gekonfronteer word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1