Nuus Flitse

Hoogs intelligentes meer geneig tot sielkundige en fisiologiese siektes

Hoë intelligensie gaan meestal gepaard met positiewe uitkomste, soos akademiese sukses en ‘n hoër inkomste. Navorsers het nou egter bevind dat ‘n hoë intelligensie (130 en hoër) ‘n risikofaktor verteenwoordig wat individue blootstel aan verskeie sielkundige en fisiologiese siektetoestande.

‘n Definisie van hoë intelligensie wat deur ‘n groot aantal wetenskaplikes ondersteun word beskryf dit as ‘n “wyer en dieper vermoë om die omgewing te verstaan”. Mense met ‘n hoë intelligensie ervaar hul leefwêreld baie meer intens, en dit kan  hulle tot merkwaardige hoogtes aanvuur, maar dit kan ook verlammend wees.

Die navorsers het daarom die hiper brein/hiper liggaam hipotese ontwikkel – individue met hoë kognitiewe vermoëns reageer met  “ooropwinding’ (overexcitable) emosionele en gedragsresponse op hul omgewing. As gevolg van hierdie intense bewustheid van hul omgewing, is hul sentrale senustelsel dan geneig om oorgestimuleerd en hiperaktief te wees. Die gevolg is dat kleinigheidtjies ‘n hiper respons van die liggaam ontlok. Gevolglik funksioneer die simpatiese senustelsel permanent op ‘n veg-of-vlug basis, of hy vries op, wat ‘n reeks negatiewe immuunveranderinge laat plaasvind in sowel die liggaam as die brein, wat gedrag, gemoedstemming en funksionering kniehalter.

Tydens die huidige studie is meer as 3700 lede van die Amerikaanse Mensa Vereniging, met ‘n IK-telling van 130 of hoër, ondersoek. Die deelnemers moes verslag doen oor gediagnoseerde versteurings, sowel as toestande waaraan hulle vermoedelik ly, insluitend gemoeds-,  angs-, aandaggebrek en outistiese afwykings, asook fisiologiese toestande soos voedsel allergieë, asma en outo-immuun siekte.

Die restultate het bevestig dat al die genoemde siektetoestande deurgaans op statisties hoogs beduidende vlak meer by die ondersoekgroep voorgekom het, vergeleke met die algemene bevolking. Die aanwesigheid van ‘n hoë intelligensie het die verskil tussen die groepe verklaar. Net meer as 10% van die algemene Amerikaanse bevolking is bv met angsversteurings gediagnoseer, vergeleke met 20% van die Mensa-lede. ‘n Hoë intelligensie het beteken dat die risiko twee tot vier maal hoër was vir hierdie groep om met so ‘n versteuring gediagnoseer te word, vergeleke met die algemene bevolking.

Die resultate is ietwat verrassend, aangesien vorige studies bevind het dat ‘n hoë intelligensie mense kan beskerm teen hartsiektes, beroerte, rookverwante kankers, lugwegsiektes en dementia. Dit moet egter in gedagte gehou word dat hierdie siektes nie met immuun wanfunksionering verband hou nie en dat vorige studies nie noodwendig op begaafde individue gefokus het nie.

Die bevindings van hierdie studie is baie belangrik aangesien navorsing oor intelligensie meestal op lae tot gemiddelde intelligensie konsentreer en hierdie resultate kan daartoe bydra om toekomstige navorsing in die regte rigting te stuur. By baie van die siektetoestande sal sowel omgewings as ‘n sterk genetiese komponent waarskynlik ook ‘n rol speel, en verdere navorsing kan dit ook belig.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1