Nuus Flitse

Pa’s se brein reageer anders teenoor dogters as teenoor seuns

Vaders van kleuterdogters gee meer aandag aan hul dogters se behoeftes as vaders van seuns, is bevind deur  breinskanderings en ontleding van hul daaglike interaksie met hul kinders.

Al ooit opgelet dat pa’s geneig is om anders op te tree teenoor hul dogters as teenoor hul seuns?  Verskeie studies het hierdie waarneming  al bevestig, maar daar is nog nooit ondersoek of die rede is dat hul breine anders reageer teenoor dogtertjies as teenoor seuntjies, en hoe dit die kinders in volwassenheid beïnvloed.

So sal dogtertjie-pas’s bv meer aandag aan hul dogters skenk, meer vir hulle sing, meer openlik oor emosies wees en liefdevoller met hulle praat. Die pa’s van seuns, aan die ander kant, sal meer geneig wees om rowwe speletjies met hulle speel en hulle taalgebruik sal meer prestasiegerig wees met woorde soos trots, wen en die beste wat dikwels gebruik word.  Die rede vir die verskille kan volgens die studie waarskynlik daaraan toegeskryf word dat dogters aangemoedig word om emosies te wys maar nie seuns nie. Vaders van dogters sal ook gouer aandag gee wanneer hulle huil en na hul pa roep, as die pa’s van seuns.

Tydens die huidige studie wou die navorsers vasstel of die vaders anders teenoor hul seuns as hul dogters optree omdat hulle geneties en deur die proses van evolusie so geprogrammeer is,  en of hulle bloot konformeer aan samelewingsnorme.

Die resultate van laboratoriumondersoeke  is dikwels onakkuraat omdat  ouers geneig is om te antwoord soos hulle dink van hulle verwag word. Om dit te verhoed het die navorsers 52 vaders van kleuters (30 meisies en 22 seuns) met rekenaartjies toegrus wat aan hulle gordels geheg kon word, en wat vir 50 sekondes elke 9 minute alle geluide opgeneem het. Hulle moes dit vir een weeksdag en een naweekdag by hulle hou. Waar vaders meer as een kind gehad het het die navorsers net op een van die kinders gefokus. Gedurende die aand is die opnemer in die kind se kamer herlaai sodat interaksie deur die loop van die nag ook opgeneem kon word. Volgens die hoofnavorser Jennifer Mascaro het mense skokkend normaal opgetree wanneer hulle die toestel gedra het, aangesien hulle geheel en al daarvan vergeet het.

Verder is breinskanderings ook gedoen terwyl die pa’s na foto’s van ‘n onbekende volwassene, ‘n onbekende kind en hul eie kind met gelukkige, hartseer en neutrale gesigsuitdrukking gekyk het. Die navorsers was veral geïnteresseerd in moontlike veranderinge wat plaasvind in die beloningsentrum van die brein en breinareas wat gesigsuitdrukkings en emosies prosesseer.

Breinanalise het getoon dat, in vergelyking met vaders van seuns, die vaders van dogters kragtiger gereageer het op hul dogters se gelukkige gesigsuitdrukkings in breinareas wat visuele prosessering, beloning, emosionele beheer en gesigsprosessering kontroleer. Daar was nie beduidende verskille tussen breinresponse op hartseer gesiggies van seuns en dogters nie, maar die pa’s se breine het kragtiger op neutrale gesiguitdrukkings van hul seuns gereageer.

Luidens Mascaro het die navorsingspan besluit om eerder op vaders as moeders te fokus aangesien daar tot dusver baie min navorsing gedoen is oor vaders se rol in die versorging van jong kinders. Die studie het wel geen langtermyn verband gevind  tussen vaders se optredes teenoor hul seuns in vergelyking met hul dogters, en hoe dit die kinders se toekomstige ontwikkeling beïnvloed nie. Tog is die navorsingsresultate relevant en verskaf dit belangrike riglyne. Dit is bv baie belangrik om kennis te neem dat vaders moontlik onbewustelik minder aandag skenk aan hul seuns se emosionele ontwikkeling as dié van hul dogters. Vorige navorsing het getoon dat ‘n onvermoë om emosies te wys by volwasse mans dikwels met depressie, onvermoë tot sosiale intimiteit en gevolglike huweliksprobleme verband hou.  Aan die ander kant is bevind dat wanneer ‘n ouer rowwe speletjies met  jong kinders speel, dit kan help om hul te leer om hul emosies te beheer. Vaders moet dalk in meer rowwe speletjies met hul dogters betrokke raak, aldus Mascaro.

Volgens Mascaro probeer vaders hul uiterste bes om hul kinders te help om suksesvol te wees, maar dit is belangrik om bewus te wees dat hul interaksie subtiel deur die geslag van die kind beïnvloed kan word.- MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1