Nuus Flitse

Lang mense het aangebore voordeel om afstand te skat

Ruimtelike- of diepte-waarneming is die vermoë om afstand akkuraat binne ’n bepaalde ruimte te bepaal en om ’n objek in die regte verhouding tot ander te plaas. Dit is baie belangrik in die daaglikse lewe en help jou om ’n idee te vorm van die lengte, breedte en hoogte van ‘n objek, asook hoe vinnig ’n objek na jou toe aankom. Daarsonder sou jy nie kon beweeg sonder om teen objekte vas te loop nie, jy sou nie die afstand tussen jou motor en die een voor jou akkuraat kon bepaal nie en wanneer jy ’n straat wou oorsteek sou jy nie korrek kon skat hoe vinnig ’n bewegende motor nou jou toe aankom nie, om maar ’n paar voorbeelde te noem.

Die sig-sintuig alleen is nie voldoende om die ruimte om ons korrek te interpreteer nie.  Die brein kompenseer vir die tekortkoming deur inherente kennis te gebruik om te bepaal waar objekte in ruimte is.  Dit is nog belangriker in die donker wanneer daar nie baie visuele leidrade is nie.

Navorsers het nou vasgestel dat lang mense die posisie van middel-afstand teikens (tussen 3 en 20 m weg) akkurater as kort mense kan beoordeel. Die navorsers het 12 kort en 12 lang deelnemers gevra om die posisie van ’n teiken te beoordeel in volle lig, pikdonker en met ’n groen LED lig. Die lang deelnemers was nie 100% akkuraat nie, maar het deurgaans baie beter gevaar as die kortes.  Selfs wanneer die langer deelnemers gesit en die kortes op ’n boks of stoel gestaan het, het die voordeel steeds bestaan.

Die grondoppervlak is ‘n baie belangrike verwysingspunt wanneer afstand in ruimte geskat word.  Lang mense het ’n beter perspektief op die grond, daarom kan hulle die ruimte tussen hulself en ‘n teiken oor ‘n afstand beter beoordeel.  Mense vlieg nie, of sweef nie en dit is dus waarskynlik as gevolg van evolusie dat die brein die grond in berekening bring wanneer afstand geskat word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1