Nuus Flitse

Babas kan leer dat harde werk vrugte afwerp

As jy sukkel met iets, hou aan probeer tot jy sukesvol is – ‘n studie deur MIT toon dat babas so jonk as 15 maande hierdie raad ter harte kan neem. Die studie illustreer dat babas kan leer dat inspanning vrugte afwerp deur net ‘n paar voorbeelde waar te neem van volwassenes wat aanhou probeer tot hulle sukses behaal. Volwasse rolmodelle beïnvloed dus die babas se volhardingsgedrag en hulle kon dit wat hul by die volwassenes waargeneem het toepas toe hulle self met ‘n moeilike taak moes worstel.

Navorsers Leonard en Schultz het bevind dat babas wat ‘n volwassene dopgehou het terwyl hy op twee verskillende geleenthede gesukkel het om iets reg te kry, harder probeer het toe hulle self met ‘n moeilike taak gesukkel het, as babas wat gesien het hoe volwassenes sonder enige inspanning sukses kon behaal. Dit is egter nie bekend hoe lank die invloed sal voortduur nie.

Die navorsers het ‘n eksperiment ontwikkel waar 15-maand oue babas eers gekyk het hoe ‘n volwassene twee take voltooi: hoe om ‘n speelgoed padda uit ‘n houer te verwyder en hoe om ‘n ketting van ‘n haak te verwyder. Helfte van die babas het waargeneem hoe ‘n volwassene die taak drie maal maklik voltooi het binne 30 sekondes, en die ander helfte het waargeneem hoe die volwassene vir 30 sekondes gesukkel het voordat sukses behaal is.

Hierna is ‘n musiekspeelding aan die babas gewys. Daar was ‘n knoppie wat die speelding moes aktiveer, maar dit het nie gewerk nie. Daar was ook ‘n versteekte knoppie wat wel gewerk het, waar die navorser die speelding buite sig van die babas geaktiveer het. Elke baba kon toe vir twee minute met die speelding speel en die navorsers het aangeteken hoeveel keer elke baba probeer het om die speelding deur middel van die stukkende knoppie te aktiveer. Die babas wat die navorser sien sukkel het voor hy suksesvol was, het die knoppie amper twee maal soveel gedruk as dié wat waargeneem het hoe die volwassene met die eerste poging suksesvol was.

Daar was nie verskille in hoe lank hulle met die speelding gespeel het of hoeveel keer hulle dit na hul ouers gegooi het. Die enigste werklike verskil was die aantal kere wat die knoppie gedruk is. Die navorsers het ook bevind dat direkte interaksie ‘n verskil gemaak het. Wanneer hulle die baba se naam genoem het en direkte oogkontak gemaak het, het die babas harder probeer as wanneer daar geen direkte interaksie met hulle was nie.

Alhoewel die navorsing in ‘n laboratorium opset uitgevoer is, kan dit tog rigtinggewend wees vir ouers wat die waarde van volharding by hul kinders wil inskerp. Ouers is dikwels onder druk om alles maklik te laat lyk en om nie voor hul kinders gefrustreerd te raak nie. Laboratoriumstudies kan nie direk op ouerskap van toepassing gemaak word nie, maar die studie  bevestig wel dat dit positief kan wees as kinders sien dat alles nie altyd maklik is nie en dat inspanning vrugte afwerp.

Persoonlikheidseienskappe word op ‘n baie jong ouderdom reeds vasgelê en bly relatief stabiel regdeur die mens se lewe. Volharding, aan die ander kant, kan kom en gaan en is dus plooibaar. Die waarde van harde werk en inspanning is deur verskeie onlangse studies ondersoek. Daar is onder meer  bevind dat volharding bo en behalwe IK-tellings, ‘n sterk verband toon met langtermyn akademiese uitkomste. Tydens nog ‘n studie is bevind dat kinders se geloof rakende inspanning ‘n invloed uitoefen: Dié wat glo dat inspanning tot groter sukses lei, vaar beter op skool as dié wat glo dat sukses alleenlik van intelligensie afhanklik is.

Die grootste waarde van hierdie studie is die bevinding dat mense klaarblyklik vanaf ‘n baie vroeë ouderdom kan leer hoe om besluite te neem rakende of inspanning die moeite werd is, of nie. In die Westerse samelewing word baie waarde geheg aan inspanning en harde werk. Maar inspanning is ook ‘n beperkte bron en dit is belangrik om te evalueer waar om dit aan te wend en waar nie.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1