Nuus Flitse

Testosteroon smokkel met mans se koppe!

Wanneer mans se testosteroonvlakke verhoog, verander hul denkwyses

Dit is nou bevestig – testosteroon doen vreemde dinge aan mans!! Wanneer mans se testosteroonvlakke verhoog, soos in die aanwesigheid van ‘n aantreklike potensiële vriendin of tydens kompetisie, verander hul denkwyses dramaties. In plaas van kalm, goed beredeneerde en doelgerigte denke, skakel hulle dan oor na vinnige, intuïtiewe denkpatrone, wat dikwels gepaard gaan met growwe oordeelsfoute.

In die grootste studie wat nog oor die invloed van testosteroon op menslike gedrag gedoen is, het navorsers aan die Universiteit van Pennsylvania ‘n ondersoek geloods na 243 mans, hoofsaaklik kollege studente. Hulle moes ‘n jel aan hul skouers, boarms en bors smeer, wat testosteroon kon bevat of net ‘n placebo was. Vier-en-’n-half uur is toegelaat vir hul testorteroonvlakke om maksimaal te styg, en speekselmonsters het bevestig dat ‘n verhoging wel plaasgevind het by dié wat jel aangesmeer het wat testosteroon bevat het.  Hierna is hulle aan ‘n reeks toetse onderwerp is, waarvan die belangrikste die Kognitiewe Refleksie Toets was, wat die vermoë meet om vinnige, intuïtiewe denke, met gepaardgaande oordeelsfoute, te vervang met weldeurdagte en goed beredeneerde denke. Die deelnemers is meegedeel dat hulle  $1 sou ontvang vir elke korrekte antwoord, met ‘n $2 bonus vir drie korrekte antwoorde.

Die mans wat testosteroon-jel aangesmeer het, het beduidend swakker op die toets presteer. Wanneer hulle wel die korrekte antwoord verskaf het, het dit hulle baie langer geneem om daarby uit te kom as die groep wat die plasebo-jel ontvang het. Die deelnemers het ook rekenkundige toetse gedoen, waartydens beide groepe ewe goed presteer het. Die navorsers verklaar dit  daaraan dat verhoogde testosteroonvlakke veroorsaak dat die  mans op hul eerste impuls reageer, sonder om dit behoorlik te oordink. Hul motivering en rekenkundige vaardighede word egter nie beïnvloed nie.

Die resultate bevestig dat testosteroon ‘n beduidende invloed uitoefen op menslike denke en besluitneming – die vermoë tot weldeurdagte inspannende intellektuele prosesse neem dramaties af, maar die vermoë om die take uit te voer bly onveranderd.

Of dit goeie of slegte nuus is hang van die konteks af. Luidens die navorsers kan vinnige, intuïtiewe besluite die kanse verbeter om op fisieke vlak te presteer of om seks te hê, wat voortplanting en die voortbestaan van die spesie bevoordeel. Dit kan egter rampspoedige gevolge hê in ‘n werksituasie of ‘n eksamenlokaal. Is dit miskien ‘n argument ten gunste van skeiding van die geslagte in die klaskamer?
Die Westerse wêreld word die afgelope dekade as’t ware met eksterne testosteroon aanvulling gebombardeer, vanweë vervangingsterapie wat deur baie ouer mans gebruik word. Dit is noodsaaklik dat die invloed hiervan verder ondersoek word sodat medici en beleidsmakers ingeligte besluite kan neem. Ongelukkig verskaf hierdie studie geen inligting oor die invloed van testosteroon op vroulike denkwyses nie, maar dit moet in gedagte gehou word dat vrouens ook testosteroon afskei, hoewel in kleiner hoeveelhede.- BPS

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1