Nuus Flitse

Mens eet met jou oë

Mens eet met jou oë – visuele impak het ‘n baie groter invloed op eetgewoontes  as wat mense besef.

Dit is glad nie toevallig dat die mond naby die brein van meeste dierspesies- ook die mens – geleë is nie. Een van die belangrikste funksies van die brein is om voedselinname te reguleer. Daarby is die brein een van die mees energie-intensiewe menslike organe.

Die oorgewig-epidemie waarmee die wêreld huidiglik worstel is egter voldoende getuie dat hierdie breinfunksie op sy beste net matig suksesvol is. Dit kan gedeeltelik toegeskryf word aan globale voedselmaatskappy wie se primêre doel is om verslawende kosse te produseer, wat oorlaai is met verfynde suikers en oormatige ongesonde vette, spesiaal so ontwikkel sodat dit verruklik en onweerstaanbaar lekker kan wees. Maar, dit kan ook daaraan toegeskryf word dat die brein geëvoleer het uit ‘n tydperk toe die voedsellandskap baie anders gelyk het, en toe kos  baie skaarser was as wat vandag die geval in die Westerse samelewing is.

Die kritiese vraag is nou hoe die oorgewigprobleem dan vanuit hierdie perspektief aangepak moet word? Navorsers het besluit om eerstens ondersoek in te stel na die faktore en implisiete leidrade in die moderne samelewing wat veroorsaak dat die hongerhormoon oortyd werk!

Mense eet met hul oë
Min mense besef hoe ‘n groot invloed Visuele stimulie op die menslike spesie se eetgewoontes uitoefen. In die Westerse kultuur word die mens al hoe meer blootgestel aan visueel stimulerende voedselbeelde, dikwels van minder gesonde kosse. Dink maar aan die groot hoeveelheid kookprogramme en kookkompetisies wat op TV vertoon word! Mense word as’t ware gebombardeer met verleidelike kosfoto’s – restaurante, supermarkte, produkverpakkings – daar is net geen manier om te ontsnap aan aanloklike beelde van heerlike disse nie. Blootstelling aan hierdie verruklike kosfoto’s maak dat mense wat nie honger is nie, honger word, en dat dié wat reeds honger is, rasend honger word. Dit lei daartoe dat meer kilojoules ingeneem word as wat die liggaam se energiebehoeftes is. Boonop is dit asof die brein van nature geneig is om te fokus op die beelde van geprosesseerde, hoë vet voedsels eerder as  oninspirerende gesonde alternatiewe.

‘n Verrassende bevinding is dat blootstelling aan kosfoto’s of selfs om jou net te verbeel dat jy eet, ook tot versadiging kan lei. Navorsers het bv bevind dat die blote gedagte dat jy ‘n groot hoeveelheid M&M’s geëet het, mense se latere inname daarvan beduidend laat afneem het. Nog meer verrassend is die bevinding dat wanneer na kosfoto’s gekyk word wat met ‘n spesifieke smaak verbind word, mense dit later minder geniet het wanneer hulle wel kos met ‘n soortgelyke smaak geëet het.

Regte kos en virtuele voeding
Vanweë die gerief en laer pryse van geprosesseerde kosse, is daar ‘n tendens dat dit meer en meer voorrang geniet bo vars produkte. Sodoende word al die sintuiglike waarnemings wat met voedselvoorbereiding gepaard gaan, verontagsaam. Dit kan miskien mense se beheptheid met kookprogramme verduidelik. Om andere te sien kook of na pragtig geïllustreerde resepteboeke te kyk word as’t ware ‘n hanteringstrategie waardeur gekompenseer word vir die verlies van kos-verwante sintuiglike waarnemings.

Ander interessante feite

Die volgende interessante feite wat voedselinname beïnvloed, is deur middel van neurobeelding bevind:

  • Hoë vet voedsels het baie meer motiveringswaarde as laevet disse en die brein se motiveringsentra sal eerder daardeur geaktiveer word.
  • Honger mense fokus baie sterker op kosfoto’s as dié wat versadig voel.
  • Voedsel is een van die kragtigste stimulie wat breinaktiwiteit veroorsaak. Tydens ‘n troeteldierstudie is ‘n toename van 24% bv in heelbrein metabolisme geregistreer wanneer honde heerlike kosse gesien en geruik het. Wat mense aanbetref is groot veranderinge in breinaktiwiteit gemeet wanneer statiese beelde van voedsel op ‘n monitor aan hulle gewys is terwyl hulle passief in ‘n breinskandeerder gelê het.

Die toekoms

Dit is dus duidelik dat een van die primêre uitdagings vir die moderne brein is om voedsame voedsel te kies bo giftige en skadelike voedsels. Die smaak van kos is baie afhanklik van geur en tekstuur, maar die visuele impak is steeds die belangrikste wanneer gesonde en voedsame keuses gemaak moet word.

Dit sal bv baie interessant wees hoe verskeie aanvullende en virtuele tegnologiese bronne wat besig is om tot stand te kom, die toekoms gaan beïnvloed. In die toekoms kan mense bv dalk een tipe kos eet, maar visueel iets anders sien. Daar is bv reeds bevind dat veranderde visuele voorkoms van kos die smaak sowel as die waargeneome tekstuur daarvan dramaties verander het. Verbruikers kan dus visueel ‘n verruklike maar ongesonde gereg sien, maar in werklikheid eet hulle ‘n gesonde alternatief.

In die lig van die gewigskrisis waarmee die wêreld tans te kampe het, is dit gerade om aandag te skenk aan enigs omgewingsfaktore wat ‘n verbetering kan meebring.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1