Nuus Flitse

Die towerformule van romantiese aantrekking ontwyk die wetenskap steeds

Afspraakwebwerwe maak daarop aanspraak dat twee mense se romantiese aantrekking tot mekaar voorspel kan word op grond van die regte kombinasie van hul persoonlikheidseienskappe en -voorkeure.  ‘n Onlangse navorsingstudie werp egter twyfel oor hierdie aanname.

Navorsers het bevind dat ‘n rekenaar, op grond van data wat tydens spoed-afsprake ingesamel is kon voorspel wie begeerlik is en wie nie. Die rekenaar kon egter nie daarin slaag om individue se aantrekking tot ‘n spesifieke persoon korrek te voorspel nie.

Dit blyk dat die aantrekking tussen twee persone moeilik of selfs onmoontlik is om te voorpsel voor die persone mekaar ontmoet het. Verhoudings bestaan uit meer as net persoonlikheidstrekke en voorkeure – die gedeelde ervaring wat plaasvind wanneer twee persone mekaar ontmoet is bepalend en kan nie vooraf voorspel word nie.

Gedurende twee spoed-afspraak studies, het  romanties onverbonde individue meer as 100 self gerapporteerde metings ingevul oor persoonlikheidseienskappe en voorkeure wat deur vorige studies aangedui is as belangrik vir romantiese aantrekking. Elke deelnemer het verskeie deelnemers  van die teenoorgestelde geslag vir ‘n reeks  spoed-afsprake van vier minute elk, ontmoet. Na die ontmoetings het die deelnemers hul interaksies, vlak van belangstelling en seksuele aantrekking met elke persoon geëvalueer.

Deur van rekenaartegnologie gebruik te maak het die  navorsers probeer vasstel of dit moontlik sou wees om romantiese belangstelling te voorspel op grond van die deelnemers se response op die vraelyste, voordat hulle mekaar ontmoet het.

Dit was nie moontlik nie. Dit was moontlik om ‘n algemene beeld te vorm van hoeveel die deelnemers waarskynlik van ‘n bepaalde individu sou hou, maar hulle kon nie met akkuraatheid voorspel watter individue ‘n romantiese paartjie sou vorm nie. Dit is verrassend dat, uit ‘n totaal van meer as 100 voorspellers, die navorsers nie eers gedeeltelik akkurate voorspellings kon maak nie.

In die hoogs tegnologiese wêreld waarin ons ons bevind sou dit inderdaad baie voordelig wees indien ‘n individu sy sielsgenoot sou kon vind bloot deur inligting in ‘n rekenaar te voer. Romantiese afsprake kan moeilik wees en kan mense baie angstig maak. Die towerfomule wat jou die kortpad na jou sielsgenoot kan wys kon egter nog nie gevind word nie. Tog lewer aanlyn afspraakwebwerwe ‘n bydra daarin dat hulle die veld verklein en potensiële romantiese maats kan identifiseer. Dit bly egter steeds noodsaaklik om iemand fisies te ontmoet om uit te vind hoe jy oor hom voel.

Heelwat ontwikkeling is nog nodig voor die  wetenskap van verhoudings romantiese aantrekkingkrag  goed genoeg sal kan verstaan om sielsgenote aanlyn te identifiseer. Of dalk sal dit eenvouding nooit moontlik wees nie, vanweë die ingewikkelde dinamiek en chaotiese aard van die proses wat chemiese reaksie, persoonlikheidseienskappe en voorkeure in die regte kombinasie by mekaar uitbring.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1