Nuus Flitse

Troetelhonde laat kinders ontspan

Nie alleenlik kan Woef  klaarblyklik help om Boetie of Sussie se selfbeeld te verbeter nie, hy dra ook by om angstigheid te verminder en om sosiale inskakeling makliker te maak. Kinders met probleemgedrag en ontwikkelingsversteurings blyk veral baie baat te vind by ‘n verhouding met ‘n troetelhond. Ander pluspunte sluit in dat Woef kinders leer om meer selfstandig te wees en om empatie met ander mense en diere te ontwikkel.

Volgens Diane Kertes en haar kollegas wat die studie uitgevoer het glo baie mense dat dit goed is vir kinders om ‘n troetelhond te hê. Tog was dit tot onlangs nog nie wetenskaplik getoets nie en ook nie duidelik waarom en hoe troetelhonde kinders se emosionele ontwikkeling ondersteun nie.

Die huidige studie het die potensiële stresverminderings-effek van mens-dier-interaksie op kinders in ‘n gekontroleerde laboratorium-opset, getoets.  Die studie is uitgevoer met die hulp van ongeveer een-honderd kinders tussen die ouderdomme van sewe en twaalf jaar, tesame met hul primêre versorgers en  troetelhonde.  Die kinders is lukraak toegeken aan ‘n groep waar ‘n troetelhond aanwesig was, of een van twee kontrolegroepe waar ‘n versorger of geen ondersteuningsfigure teenwoordig was nie. Al die kinders is onderwerp aan die Trier Sosiale Strestoets vir Kinders (TSST-C).  Hul response, herstelindekse waar stres waargeneem is, en kortisolvlakke is gemonitor.

Stres is by die kinders ontlok deur hulle voor ‘n groep te laat praat en aan ‘n hoofrekenkunde toets te onderwerp (hulle kon nie die bewerkings op papier doen nie). Beide hierdie take is bekend daarvoor dat dit stresvol is en vrystelling van kortsol, die streshormoon, veroorsaak.

In die groep waar geen ondersteuningfigure aanwesig was nie het die kinders, soos te wagte, ‘n verhoging in waargenome stresvlakke getoon. Die navorsers het bevind dat  die kinders in die groep waar die troetelhonde was baie minder stres ervaar het. Die troetelhonde het dus hul stres betekenisvol verskans in vergelyking met die kinders wat alleen of saam het ‘n primêre versorger (ouer) was.

Die navorsers skryf dit daaraan toe dat die honde onvoorwaardelike kameraadskap bied sonder dat enige evaluering plaasvind of eise gestel word. Sosiale evaluering is een van die belangrikste snellermeganismes van sosiale stres of angs. Gedurende die middel-kinderfase is kinders meer geneig om hulself met andere te vergelyk, word hulle toenemend bewus van sosiale beoordeling en inkorporeer hulle die terugvoer wat hulle ontvang in hulle eie selfbeeld. Dit maak hulle meer sensitief vir sosiale stres as wat kinders op ‘n jonger leeftyd is.

Kortisolvlakke het nie ‘n betekenisvolle verskille getoon nie maar by die troeteldiergroep is laer kortisolvlakke wel gemeet wanneer die kinders meer met die honde in interaksie was, byvoorbeeld deur hulle meer te vryf. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat troetelhonde sosio-emosionele voordele vir die kinders ingehou het deur ‘n stresverskansings-effek.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1