Nuus Flitse

Knip n uiltjie. Dit maak jou gelukkig.

‘n Navorsingstudie wat vir die Edinburgh Internasionale Wetenskap Fees gedoen is deur sielkundige Prof Richard Wiseman van die Universiteit van Hertfordshire, het verrassende resultate gelewer:  mense wat ‘n uiltjie knip gedurende die dag  beoordeel hulself as gelukkiger.

Meer as 1 000 deelnemers is gevra of hul ‘n uiltjie knip gedurende die dag, en om te beoordeel hoe gelukkig hulle is. Hulle is geklassifiseer in drie groepe:  geen middagslapers, kort middagslapers (tot 30 minute), en lang middagslapers (langer as 30 minute).

Die resultate het ‘n verrassende verband getoon tussen kort middagslapies en geluk. Ses-en-sestig persent van dié wat kort middagslapies geneem het was gelukkig, teenoor net 56% van dié wat lang middagslapies geneem het en 60% van dié wat glad nie in die middag geslaap het nie.

Vorige navorsing het getoon dat middagslapies van 30 minute of korter jou meer gefokus maak, en produktiwiteit en kreatiwiteit verhoog.  Die huidige navorsing wys dat dit jou ook gelukkiger kan maak, aldus Wiseman.  Maar, neem kennis dat langer middagslapies verband hou met verskeie gesondheidsrisiko’s!

Vorige navorsing het ook getoon dat die jonger generasie nie voldoende slaap kry gedurende die nag nie. Resultate van die huidige studie is in lyn daarmee en het bevind dat 43% van persone van 18 tot 30 jaar oud lang middagslapies neem, in vergelyking met net 30% van persone ouer as 50.

Ten slotte is die deelnemers ook gevra of hulle ‘n uiltjie knip op kantoor. Ongeveer 11% is toegelaat om vir kort periodes by die werk te slaap, terwyl 57% aangedui het dat hulle wens hulle werkgewers wou dit aanmoedig.

‘n Groot aantal navorsingstudies bevestig dat kort slapies werkverrigting verhoog. Baie uiters suksesvolle ondernemings, soos Ben & Jerry’s en Google, stel slaapruimtes beskikbaar waar hul werknemers vir kort periodes kan slaap, en luidens Wiseman is dit hoog tyd dat werkgewers die voordele hiervan besef.-MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1