Nuus Flitse

48-Uur seksuele naglans help om paartjies oor tyd saam te bind

Seks bind paartjies saam, maar hoe word die band in stand gehou tussen seksuele samesyn? ‘n Seksuele “naglans” vervul klaarblyklik hierdie funksie. Hoe sterker die naglans, hoe gelukkiger is die verhouding, het navorsers bevind.

Die primêre doel van seks is voortplanting, en daar bestaan min twyfel dat dit ook aangenaam en behaaglik is. Navorsers het nou tot die gevolgrekking gekom dat dit nog ‘n doel het: dit bind paartjies saam. ‘n Studie onder nuutgetroude paartjies het getoon dat hulle ‘n seksuele naglans beleef wat tot twee dae kan voortduur, en dat hierdie naglans daartoe bydra om hulle in die langtermyn saam te bind.

Volgens Andrea Meltzer, sielkundige navorser verbonde aan Florida State University en hoof-outeur van die studie, het hulle navorsing getoon dat seksuele bevrediging vir 48 uur na seks hoog bly.  Hulle verwys daarna as die “seksuele naglans”. Mense wat ‘n sterker seksuele naglans rapporteer, dit wil sê hulle ervaar  hoër vlakke van seksuele tevredenheid 48 uur na seks, rapporteer ook maande later hoër vlakke van geluk en tevredenheid met die verhouding.

Die navorsers het die data van twee onafhanklike langtermyn studies gebruik, een met 96 en een met 118 pasgetroude pare.  Gades moes oor ‘n periode van 14 dae dagboek hou van hul huwelik.  Hulle moes elke aand onafhanklik rapporteer of hulle daardie dag seks gehad het met hul huweliksmaats. Ondanks die antwoord, moes hulle op ‘n sewepunt skaal beoordeel hoe tevrede hulle daardie dag met hul sekslewe, hul huweliksvennoot, -verhouding en huwelik was. Hulle moes ook met die aanvang van hul huwelik en weer 4 tot 6 maande later die kwaliteit van hul huwelik beoordeel.

Alhoewel baie individuele verskille voorgekom het, het die paartjies aangedui dat hulle gemiddel 4 uit die 14 dae seks gehad het. Seks op ‘n bepaalde dag het gewoonlik seksuele tevredenheid oor ‘n tydperk tot gevolg gehad – die volgende dag en selfs twee dae later.

Die resultate het dus verhoogde seksuele bevrediging aangedui ongeveer 48 uur na elke keer dat hulle seks gehad het. Die resultate het nie verskil oor ouderdoms- of geslagsgrense nie en het geldig gebly selfs nadat gereeldheid van seks, persoonlikheid, die tydsduur van die verhouding en ander faktore in berekening gebring is.

In die geheel gesien het paartjies se huweliksgeluk afgeneem tussen die begin van die studie en 4 tot 6 maande later. Paartjies wat egter hoër vlakke van seksuele naglans aangemeld het, het beter gevaar as die ander en het ook hoër vlakke van huweliksgeluk gerapporteer oor die eerste vier tot ses maande van die huwelik.

Beide die twee onafhanklike studies het dieselfde resultate getoon. Dit wys dat seks verband hou met die kwaliteit van ‘n verhouding oor tyd, deur middel van die voortslepende effek van seksuele bevrediging. Dit bevestig ander studies wat bevind het dat een van die belangrikste funkies van seks is om ‘n band tussen paartjies te skep en te handhaaf.

(Medical Xpress)

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1