Nuus Flitse

Wat is die resep vir videos om virale status te bereik?

Videosnitte op sosiale media gaan soms viraal. Dit word deur miljoene gebruikers gekyk omdat geweldig baie mense besluit om die skakel aan vriende te stuur.

Rosonna Guadagno en haar kollegas het bevind dat die waarskynlikheid dat ‘n video aangestuur sal word afhang van die emosies wat dit ontlok. Op grond van hul bevindings het hulle ‘n hiërargie opgestel wat die waarskynlikheid aandui dat ‘n video aangestuur sal word.  Hulle het bevind dat videos wat positiewe emosies ontlok het, insluitend geluk en humor, mees waarskynlik aangestuur sal word. Volgende op die hiërargie was videos wat aandag getrek het en gevoelens van belangstellling wakker gemaak het. Snitte wat negatiewe emosies ontlok het is laaste op die hiërargie, maar sal steeds eerder aangestuur word as vervelige, nie-emosionele videos.

Die navorsers het aan 256 deelnemende studente 10 verskillende videos elk gewys. Die studente is dan gevra hoe hulle daaroor gevoel het en of hulle beplan het om dit aan te stuur. Aanvanklik is vier kategorieë onderskei, naamlik oulik (bv ‘n kind wat sy ouer boetie op ‘n prettige manier byt), snaaks (bv ‘n kat wat ‘n video kamera bekruip), walging (bv ‘n vrou wat ‘n insek eet), en laastens video’s wat woede ontlok (bv ‘n polisiebeampte wat ‘n skokstok op ‘n student gebruik).  Twee vervelige kontrole videos is ook ingesluit – een oor kruissteek naaldwerkmetodes en een oor mandjievleg.  ‘n Tweede studie waartydens 163 studente gebruik is is ook onderneem, maar hierdie keer is die bron van die video verander, bv van iemand by dieselfde universiteit of van ‘n mededingende instansie.

Die navorsers het bevind dat oulike en snaakse videos mees waarskynlik aangestuur sou word. Hulle het ook bevind dat wanneer die studente aangedui het dat die video positiewe gevoelens by hulle wakker gemaak het, hulle meer geneig was om dit aan te stuur. Dit is teenstrydig met die bevinding dat videos wat woede of walging ontlok het tweede meeste aangestuur is, maar die navorsers het bevind dat die element van die belangstelling wat dit opgewek het in hierdie geval die sleutelfaktor was.

Die studente het videos wat woede ontlok het meer interessant gevind wanneer dit vanaf ‘n mededingende instansie gestuur is, en was dan meer geneig om dit aan te stuur. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat dit waarskynlik ‘n manier was waarop hulle vooroordeel teenoor die buitestaanders kon skep.

In die geheel gesien is humor en vreugde  onfeilbare metodes om potensiële virale status aan ‘n video te verleen. Woede en walging het verder veel groter potensiaal as neutrale videos, veral indien dit polities geïnspireerde inhoud bevat, wat groepeenheid kan aanwakker.

Alhoewel die navorsing riglyne verskaf is daar ongelukkig geen waarborge of resep wat sal verseker dat ‘n video virale status sal bereik nie. (Guadagno RE, et al 2013)

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1