Nuus Flitse

Sosiaal minderwaardiges smag na vetterige kos

Mense in die laer sosio-ekonomiese strata van die samelewing is meer geneig om vetsugtig te wees as die in die hoër strata. Dit is tot nou toe toegeskryf aan min geld tesame met groter stress, wat ’n ongesonde dieet en lewenstyl  bevorder. Navorsers het nou bevind dat die blote subjektiewe belewing van sosio-ekonomiese minderwaardigheid groter kalorie-inname kan bevoordeel, ongeag die werklike ekonomiese behoeftigheid van die persoon.

Dit is onduidelik tot watter mate gebrekkige bronne om gesonder leefstylkeuses te maak of die blote gevoel van minderwaardigheid die inname van meer kalorieë ondersteun. Die studie toon egter duidelik dat die gevoel dat ‘n persoon relatief tot ander mense tot ‘n laer sosio-ekonomiese klas behoort ‘n voorkeur vir hoë kalorie voedsels soos burgers en pizza bevorder.  Die implikasie is dat vetsugtigheid by laer sosio-ekonomiese klasse net doeltreffend beheer kan word indien die sielkundige faktore ook aangespreek word.

Navorsers aan die Nanyang Tegnologiese Universiteit van Singapoer en die Chinese Universiteit van Hong Kong het vier studies gedoen waartydens hulle vrywilligers gevra het om hul plek op die sosio-ekonomiese leer te verbeel.  Sommige moes hulself sien as naby aan die onderpunt terwyl andere gevra is om hul te verbeel hulle is aan die bopunt of in die middel.  Die deelnemers moes dan ‘n vraelys invul oor hul voedselvoorkeure tydens ‘n buffetete en watter voedsels hulle verkies. Een van die groepe se voedselkeuses is gemonitor tydens ’n werklike buffetete wat hul bygewoon het.

Die navorsers het bevind dat dié wat hulself aan die onderpunt van die sosiale skaal moes visualiseer  meer geëet het tydens die werklike buffet sowel as tydens die virtuele buffet wat gevisualiseer is. In vergelyking met die ander deelnemers het hulle ook ‘n groter voorkeur getoon vir vetterige kosse.  Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat dit die gevolg is van ‘n natuurlike aanpassingsproses om meer in te neem wanneer dit vrylik beskikbaar is en dat die hoër vetinname toegeskryf kan word daaraan dat dit langer neem om te verbrand en hul dus langer versadig sal hou in tye wanneer daar weer min of geen kos is nie.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1