Nuus Flitse

Stimuleer babas en gee die brein ‘n hupstoot

Baie nuwe ouers dink steeds dat babas teen hul eie pas moet ontwikkel, sonder hulp of inmenging – hulle moet self leer om om te rol en mag nie hul eie gewig dra voor hul self kan staan of loop nie.  Hulle mag ook nie toiletafrigting ontvang voor hulle nie gereed is daarvoor nie.

Breinstimulasie is noodsaaklik vir ontwik-keling

Volgens Professor Audrey van der Meer, ’n neurowetenskaplike vebonde aan die Noorweegse Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, is dit ‘n argaïese geloof wat dateer uit die 1900’s toe daar geglo is dat ontwikkeling natuurlik moet plaasvind en dat dit nadelig is om die ontwikkelingsproses te probeer versnel. Moderne breinnavorsing bewys egter dat stimulasie breinontwikkeling aanmoedig en selfs vir die kleinste baba voordele inhou.

Van der Meer gebruik reeds etlike jare lank gevorderde EEG tegnologie om die breinaktiwiteit van babas te monitor. Sy het bevind dat die neurone in die brein van baie jong kinders verhoog in aantal en spesialisasie wanneer babas nuwe vaardighede aanleer en meer mobiel raak. Neurone in baie jong kinders vorm tot soveel as duisende nuwe konneksies per sekonde.

Ontwikkeling van die brein, sensoriese persepsie en motoriese vaardighede vind gelyktydig plaas. Selfs die kleinste babatjie moet gestimuleer en uitgedaag word op die vlak waar hy hom bevind. Babas moet hul totale liggaam en sintuie inspan wanneer hulle die wêreld en verskillende materiale ontdek en ondersoek, sowel binnenshuis as buite, in alle tipes weer. Hulle moet self betrokke wees en proefondervindelik ervaar – dit is nie voldoende vir kinders om gedra of in ’n stootwaentjie gestoot te word nie.

Gebruik dit, of dit gaan verlore

Wanneer breinsynapse nie gebruik word nie, verdwyn dit. Volgens Van der Meer glo te veel mense dat babas tot op driejarige ouderdom net liefde en skoon doeke benodig. Wetenskaplikes het bevind dat selfs rotte wat in hokke grootword minder dendritiese vertakkings in die brein ontwikkel as dié wat in ’n omgewing grootword waar hulle kan klim, klouter, wegkruip en deur tonnels hardloop. Navorsing toon verder dat kinders wat gebore word in kulture wat die belang van vroeë stimulasie beklemtoon, vinniger ontwikkel as Westerse kinders.

Die brein van klein kinders is uiters plooibaar en pas aan by die omgewing waaraan hulle blootgestel word. Indien nuwe synapse wat in die brein gevorm word nie gebruik word nie, verdwyn hulle soos die kind grootword en die brein verloor sy veerkragtigheid. Chinese babas kan byvoorbeeld tot op vier maande ’n onderskeid tref tussen die R en die L klanke, waarna hulle die vermoë verloor. Aangesien dit nie in Chinees nodig is om hierdie klanke te onderskei nie, verdwyn die breinsynapse wat hierdie kennis stoor omdat dit nie gebruik word nie.

Babas kan tot op vier maande tussen die verskillende klanke van alle tale in die wêreld onderskei. Teen die ouderdom van agt maande het hulle egter hierdie vermoë verloor, omdat hulle dit nie gebruik nie.

Gedurende die 1970’s is geglo dat kinders net in een taal vlot kan wees. Buitelandse ouers is aangeraai om nie met hul kinders in hul moedertaal te kommunikeer nie aangesien dit die kind se vermoë om ’n tweede taal aan te leer sou benadeel.  Die moderne sienswyse is heeltemal anders en daar is kinders wat tot vier of vyf tale magtig is, sonder om verward te raak. Breinnavorsing wys dat, in hierdie gevalle, die moedertaal-area van die brein geaktiveer word wanneer die kind hierdie tale praat.  Wanneer ’n vreemde taal na sewejarige ouderdom aangeleer word, word ander breinareas geaktiveer wanneer die taal gepraat word.

Vroeë ingryping by baie jong kinders

Gedurende die eerste lewensjaar vind geweldig baie ontwikkeling in die brein plaas. Leer vind makliker plaas in hierdie stadium. Vroeë ingryping behels dat kinders so vroeg as moontlik gestimuleer moet word om te verseker dat hulle uiteindelik suksesvol is in hul opvoedkundige ontwikkeling – juis omdat die brein in hierdie stadium maklik kan verander en aanpas.  Ingryping moet plaasvind so vroeg as geboorte tot drie jaar. Kleuterskool moet ’n leer-arena wees, maar natuurlik met die klem op “speel is leer”.

Tweejarige kinders kan maklik geleer word om te swem en te lees, solank hulle blootstelling daaraan kry. Kindertuin onderrig moet egter steeds nie gelykgestel word aan voorskoolse opleiding nie, die klem moet op leer deur spel wees.

Kinders met spesiale behoeftes

Kinders met uitdagings, soos motoriese probleme of swak sig of gehoor, moet met spesiale sorg hanteer word sodat die wêreld na hulle gebring kan word. Eenjariges kan nie self leer nie – die volwassenes moet die leerproses laat plaasvind.  Daarom is dit van kritiese belang om nie ongekwalifiseerde tydelike werkers in die baba en peuter afdelings aan te stel nie. Alle kinders verdien om onderrig te word deur persone wat opgelei is om te weet hoe die brein van jong kindertjies werk.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1