Nuus Flitse

Dissipline tydens die kinderjare vestig verstandige kopers in volwassenheid

Al ooit gewonder hoe jy kinders kan grootmaak wat verstandige verbruikerskeuses en koopbesluite sal maak wanneer hulle volwasse is?  Navorsers het bevind dat die sleutel daarin geleë is om kinders se gedrag in te perk en beheer uit te oefen oor hul doen en late.

Ondanks die feit dat kinders se koop- of verbruikersgedrag deur verskeie rolspelers beïnvloed word, soos vriende, ander volwassenes en instansies soos skole en kerke, het navorsers bevind dat die ouerlike invloed uiteindelik die primêre bepalende faktor is. Kinders moet geleer word om uiteindelik slim kopers te word.  Dit vind plaas deur ’n sosialiseringproses waartydens hulle die vaardighede, kennis en houding ontwikkel wat in volwassenheid hul verbruikersgedrag en -voorkeure gaan bepaal.   Die sosialiseringproses word hoofsaaklik beheer deur die wyse waarop die kinders grootgemaak word en hoe die ouers met hulle kommunikeer.

Kinders wat byvoorbeeld in ’n streng reëlgebonde gesinsomgewing grootword waar die ouers onvoorwaardelike netheid, goedgemanierdheid en gehoorsaamheid verwag, ontwikkel ’n eng of inperkende oriëntasie.  Dié wat in ‘n kindgesentreerde omgewing grootword, waar verduidelikings, debatvoering en straf saam met positiewe insette plaasvind, word groot met ‘n warm lewensoortuiging.

Navorsers onderskei 4 ouerskapstyle  wat voortvloei uit ‘n kombinasie van die inperkende en warm ouerskapstyle:

Gesaghebbende ouerskap skep balans tussen kinders se regte en verantwoordelikhede maar oefen steeds beheer uit oor hul gedrag. Die ouers kommunikeer doeltreffend met hul kinders en verduidelik altyd waarom bepaalde besluite geneem word.  Hulle verwag van hul kinders om volwasse en in oorleg met die gesinswaardes op te tree, maar laat ook ’n mate van outonomie toe.

Verwaarlosende ouers bied baie min leiding en oefen min of geen beheer uit oor hul kinders se doen en late.  Hul kommunikasie met hul kinders is minimaal en gespanne.

Tegemoetkomende ouers verleen volwasse regte aan hul kinders sonder die gepaardgaande verantwoordelikheid, maar handhaaf oop kommunikasie. Hulle is toegeeflik, wil hul kinders tevrede stel, is aanvaardend en deel min straf uit.

Dominerende of outoritêre ouers handhaaf streng beheer oor hul kinders, ontmoedig verbale interaksie en glo aan ouerlike oppergesag. Hulle kinders het min regte maar wel volwasse verantwoordelikhede.

Die verskillende ouerskapstyle het verskeie verbruiker-sosialiseringsprosesse en -uitkomste tot gevolg.

Om uit te vind watter ouerskapstyle die beste verbruikersgedrag sal vestig het navorsers die data van 73 voormalige studies bestudeer. Hulle het bevind dat die gesaghebbende ouerskapstyl beter verbruikerspatrone gevestig het as die tegemoetkomende en verwaarlosende ouerskapstyle.  Kinders van gesaghebbende ouers het onder andere gesonder voedselkeuses gemaak, byvoorbeeld vrugte en groente, veiliger opsies gekies, soos om ‘n valhelm te dra wanneer hulle fietsry, hulle het ‘n sterk selfbeeld ontwikkel en positief bygedra tot die gesin se besluitnemingsproses. Baie verrassend was egter die bevinding dat kinders van dominerende ouers dieselfde positiewe verbruiker-sosialiseringspatrone ontwikkel het.

Volgens die navorsers wys die resultate op die positiewe uitwerking van inperkende ouerskap, soos gevind by gesaghebbende en dominerende ouers.  Kinders van gesaghebbende en dominerende ouers is geneig om swak markbesluite te vermy, insluitende betrokkenheid by kuber-boeliery, diefstal, vandalisme en dwelmmisbruik.   Hulle is ook minder geneig om ‘n negatiewe liggaamsbeeld te ontwikkel ondanks die feit dat die perfekte liggaam in die handelswêreld as die ideaal voorgehou word.

Luidens navorser Les Carlson, professor in bemarking aan die Universiteit van Nebraska-Lincoln het ouerskap met verloop van tyd meer permissief geraak. Hierdie studie toon egter dat dit goed is om kinders se gedrag in te perk en beheer uit te oefen. Tesame met die inperking moet aan kinders verduidelik word waarom daar beperkings op hul gedrag is.

Die belang van hierdie bevindings t.o.v. ons daaglikse lewe is dat ouers hul kinders proaktief kan leer deur alledaagse aktiwiteite soos inkopies saam met hulle te doen en hul dan te lei in die besluitnemingsproses.  Ouers kan byvoorbeeld aan die kinders verduidelik waarom hulle skepties is t.o.v. sekere advertensies in ’n winkel en die kinders so leer om selektief om te gaan met inligting.

Ten slotte het die studie getoon dat, al het die kinders van beide gesaghebbende en dominerende ouers beter gevaar t.o.v. verbruikersbesluite, die kinders van gesaghebbende ouers steeds beter gevaar het as dié van dominerende ouers. Die positiewe invloed van gesaghebbende ouerskap was veral opmerklik ten opsigte van gesondheidskeuses. Ook was hierdie kinders psigososiaal beter aangepas en was hulle geestes-, emosionele en fisieke gesondheid beter as die kinders van dominerende ouers.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1