Die hormoon oksitosien bevorder klaarblyklik getrouheid by mans in vaste liefdesverhoudings en dra daartoe by dat hierdie verhoudings op langtermyn voortduur.
Navorsers probeer al geruime tyd vasstel wat daartoe lei dat verliefde menslike paartjies getrou aan mekaar bly. Monogamie kom nie algemeen onder soogdiere voor nie – die menslike spesie is een van die uitsonderings.
‘n Navorsingstudie het getoon dat Oksitosien mans gekeer het om romantiese belangstelling in ander aantreklike vroue te toon. Die toediening van oksitosien het veroorsaak dat mans wat in ‘n vaste romantiese verhouding betrokke was ‘n veel groter afstand tussen hulself en ‘n aantreklike vroulike navorser gehandhaaf het (10 tot 15 cm). Hierdie groot afstand is nie gehandhaaf in die teenwoordigheid van manlike navorsers of deur mans wat enkellopend was nie. Die resultate is bevestig deurdat mans in vaste verhoudings na die toediening van oksitosien ook baie stadiger op foto’s van aantreklike vroue gereageer het as enkellopendes.
Daar is verder bevind dat wanneer oksitosien aan mans toegedien is en foto’s van hul metgeselle aan hulle getoon is, die belonigsentrum van die brein gestimuleer is. Dit het daartoe gelei dat hul metgeselle vir hulle mooier gelyk het en dat die liefdesverhouding versterk is . Dieselfde effek is nie verkry wanneer foto’s van vroulike kennisse of kollegas wat hulle al jare lank ken getoon is nie
Lewer kommentaar