Nuus Flitse

Moenie slapende honde wakker maak nie!

 Laat slapende honde met rus – hulle ontwrig nie jou nagrus nie, het navorsers bevind. Die aanwesigheid van ‘n hond in jou slaapkamer is nie nadelig vir ‘n goeie nagrus nie en jy boet geen slaapkwaliteit in nie. Die posisie wat die hond in die slaapkamer of op die bed inneem, het wel ‘n invloed.

Troeteldiere, veral katte en honde, vorm ‘n integrale deel van huishoudings regoor die wêreld en baie mense sien hulle as deel van die gesin. Sommiges glo daar is in elke geval net twee soorte mense in die wêreld: kat-mense en hond-mense. En volgens marknavorsingsmaatskappye reik hierdie verskil verby individuele voorkeure tot op geopolitiese vlak: daar is kat-lande en hond-lande. Suid-Afrika is hond-land, met 9.1 miljoen honde teenoor 2.4 miljoen katte.  In baie gevalle deel  “mens se beste vriend” nie net lekker happies en stappies met hul eienaars nie, maar slaapplek ook. Die vraag is hoe bevorderlik is dit vir ‘n goeie en welverdiende nagrus?

Meeste mense glo dat jy slaapkwaliteit inboet wanneer jy jou slaapkamer met ‘n troeteldier deel. Die waarheid is egter dat dit vir baie mense vertroostend is en ‘n gevoel van sekuriteit gee wanneer hulle troeteldiere by hulle slaap.

Tydens  hierdie studie is 40 gesonde volwassenes, by wie geen slaapversteurings gediagnoseer is nie, en hul honde, waarvan nie een jonger as ses maande oud was nie, oor ‘n periode van 5 maande gemonitor. Elke deelnemer en elke hond het vir 7 nagte lank ‘n slaapmonitor gedra wat hul slaapgewoontes nagespeur het.

Die navorsers het bevind dat sommige mense beter geslaap het wanneer hul hond by hul geslaap het, ongeag of dit ‘n yslike Great Dane of ‘n kleine Schauzertjie was. Daar was egter een uitsondering: wanneer die hond saam met hul eienaar onder die komberse ingekruip het, is slaapkwaliteit ingeboet.

Mense se verhouding met hul troeteldiere het met die verloop van tyd baie verander. Troeteldiere vervul in baie gevalle in die moderne mense se lewe ‘n ondersteuningsrol, waar die onvoorwaardelike aanvaarding en vriendskap van die troeteldier op emosionele vlak baie vir hulle beteken.  Derhalwe word troeteldiere ook in die slaapkamer toegelaat, en mense kan nou verseker wees dat dit nie hul slaapkwaliteit negatief sal beïnvloed nie.

So, maak gerus van jou skaaphond ‘n slaaphond. Maar, dis dalk ‘n goeie idee om hom in sy eie bed, eerder as jou bed, te laat slaap.- MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1