Nuus Flitse

Die wetenskap van die liefde

Om verlief te raak is ‘n komplekse wetenskaplike proses wat ingewikkelde breinprosesse insluit.

Liedjies besing dit en digters beskryf dit in poëtiese taal: verliefdheid is een van kragtigste en opwindendste emosies wat menslike wesens kan ervaar. Tog bly dit steeds ’n uiters wetenskaplike proses, vêr verwyderd van die romantiese fliek-beelde wat tradisioneel daarmee geassosieer word!

Dit neem klaarblyklik net ’n vyfde van ’n sekonde om verlief te raak!  Nie net aktiveer gevoelens van verliefdheid dieselfde geluksalige ervaring as wanneer kokaïen gebruik word nie, dit beïnvloed ook rasionele brein-areas en gesofistikeerde rasionele funksies soos gedagtebeelde, metafore en liggaamsbeeld. Die gevoelens van euforie wat met verliefdheid gepaard gaan word deur samewerking tussen nie minder nie as twaalf brein-areas teweeggebring, wat middels soos dopamien, oksitosien, adrenalien en vasopressien vrystel.

Die vraag is nou: is dit die hart of die brein wat verlief raak? Volgens Professor Stephanie Ortigue, studieleier en mede-professor in neurologie aan die Syracuse Universiteit, is dit ’n strikvraag. Verliefdheid is ’n komplekse proses wat sowel die brein as die hart insluit. Wanneer sekere breinareas geaktiveer word veroorsaak dit byvoorbeeld hartkloppings en vlinders in die maag. Die gevoelens wat ons in die hart ervaar word dus deur die brein opgewek.

Selfs die verskynsel van “liefde met die eerste-oog-op-slag” kan wetenskaplik verklaar word. Vorige navorsing het getoon dat bloedvlakke van die senuwee-groeifaktor toeneem en betekenisvol hoër is in paartjies wat pas verlief geraak het. Die molekules wat by die proses betrokke is speel ’n belangrike rol in die “elektrisiteit” tussen menslike wesens wanneer hulle verlief raak.

Analise van fMRI studies van liefde. fMRI van passievolle liefde, moeder- en onvoorwaardelike liefde).(Ortigue, Stéphanie, et al. Neuroimaging of love: fMRI meta-analysis evidence toward new perspectives in sexual medicine. Journal of Sexual medicine, 2010, vol. 7, no 11. P3541 – 3552)

Die bevindings kan deurslaggewend wees vir neurowetenskaplikes en psigiese gesondheid aangesien verbrokkelde liefdesverhoudings ’n belangrike oorsaak van emosionele stres en depressie verteenwoordig. Begrip van waarom mense verlief raak en waarom hulle so gebroke van hart kan raak kan nuwe rigtings oopmaak vir terapeutiese ingryping. Indien doktors en terapeute in staat is om te identifiseer watter dele van die brein deur verliefdheid gestimuleer word, kan hulle ook die pyn van gebrokenes van hart beter begryp.

Interessant is ook dat bevind is dat verskillende breinareas geaktiveer word by verskillende tipes liefdeservarings. Onvoorwaardelike liefde, soos tussen moeder en kind, word onder andere deur die middelbrein meegebring terwyl passievolle liefde in die beloningsareas van die brein gesetel is, sowel as in die assosiatiewe kognitiewe breinareas wat hoër funksies soos liggaamsbeeld beheer.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1