Nuus Flitse

Riglyne vir media-gebruik deur kinders en kleuters

Volgens die Amerikaanse akademie vir Pediatrie moet ouers die tyd wat kinders op digitale media spandeer, sowel as wanneer en waar hulle dit gebruik, monitor.  Kinders van 2 tot 5 jarige ouderdom behoort nie meer as een uur per dag aan digitale media blootgestel te word nie, terwyl die kwaliteit van die programme streng gemonitor moet word, of dit moet iets wees wat ouers en kinders saam kan geniet.  Met die uitsondering van video gesprekke, behoort kinders jonger as 18 maande glad nie aan digitale media blootgestel te word nie.

55052813 - little boy protects his sister from watching inappropriate content while using a computer. internet safety for kids concept. toned image with selective focus

In die moderne samelewing het digitale media onvermydelik ’n belangrike deel geword van die lewens van baba’s, kleuters en voorskoolse kinders.  Ongelukkig is daar net beperkte navorsingsresultate beskikbaar oor die invloed wat dit op hul ontwikkeling uitoefen.

Navorsing het wel onweerlegbaar bewys dat kinders ouer as drie baie baat kan vind by kwaliteit programme soos Sesame Street, wat hulle aan nuwe idees blootstel en toekomstige skoolprestasie positief kan beïnvloed.  Die onontwikkelde brein van kinders jonger as drie veroorsaak egter dat hulle dit moeilik vind om wat hulle op die skerm sien na hul werklike leefwêreld oor te dra.

Die vroeë kinderjare word gekenmerk deur vinnige brein ontwikkeling, waartydens kinders tyd nodig het om te speel, te slaap en te leer om emosies te hanteer en interpersoonlike verhoudings te bou.  Navorsingsresultate wat wel beskikbaar is dui daarop dat oormatige media gebruik in die pad kan staan van hierdie belangrike aktiwiteite.

Te veel en verkeerde media gebruik deur klein kinders kan negatief inwerk op kwaliteit slaap, ontwikkeling en fisieke gesondheid.  Swaar media gebruik tydens die voorskoolse jare is al in verband gebring met ’n betekenisvolle toename in die liggaams-massa-indeks.

Verdere aanbevelings is dat digitale media ten minste ’n uur voor slapenstyd afgeskakel moet word en dat etenstye en ouer-kind speeltyd skerm-vry moet wees. Digitale media kan wel handig gebruik word om kinders besig te hou tydens bv. vliegtuigritte en sekere mediese prosedures, maar in die reël is dit nie wys om dit te gebruik om kinders te kalmeer en rustig te maak nie aangesien hulle dan nie leer om hulle eie emosies te beheer nie.

’n Mens moet realisties wees oor hoe volop digitale media deesdae is – dit het ’n geïntegreerde deel geword van ons kultuur en daaglikse lewe.  Gevolglik is dit selfs nog belangriker dat ouers gesonde gebruikspatrone by hul kinders sal vestig vanaf ’n jong leeftyd. Digitale media kan bv. gebruik word om familiebande te versterk deur fliekaande of deur saam na opvoedkundige programme te kyk.  Dit is egter krities dat ouers tydens die gebruik van media met hulle kinders in interaksie tree sodat die kinders kan leer om wat hulle op die skerm sien op hul eie leefwêreld van toepassing te maak.

Ter opsomming is die volgende riglyne van toepassing:

  • Vermy die gebruik van digitale media by kinders jonger as 24 maande.
  • Tussen die ouderdomme van 18 en 24 maande moet hoë kwaliteit programme geselekteer word en ouers moet altyd saam met die kind die media gebruik.
  • Moet nie onder druk wees om kinders te vroeg aan tegnologie bloot te stel nie.
  • Hulle sal die gebruik daarvan wel intuïtief onder die knie kry wanneer hulle blootstelling kry.
  • Kinders van 2 tot 5 moet nie meer as 1 uur per dag aan media blootgestel word nie en dan net aan kwaliteit programme.
  • Ouers moet saam met die kinders kyk en hulle help om die programme te interpreteer.Vermy vinnige programme en toepassings met baie geweld.
  • Skakel TV’s en ander toestelle af wanneer dit nie in gebruik is nie.
  • Moenie die media gebruik as die enigste manier om jou kind te kalmeer nie. Dit kan die kind verhoed om te leer om sy eie emosies te hanteer en te reguleer.
  • Hou slaapkamers, etenstye en ouer-kind speeltye skerm-vry.
  • Geen skerm-tyd ’n uur voor slapenstyd moet as ’n huisreël geld.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1