Nuus Flitse

Vier-dimensionele ultraklank beelde wys hoe babas van rokende ma’s swaarkry

Babies of smoking momsNavorsers aan die Universiteite van Durham en Lancaster het tydens ‘n lootsstudie duidelike beelde verkry van hoe die gesiggies van ongebore babas van ma’s wat rook vertrek, en hoe hulle hul gesiggies met hul handjies bedek.  Die baba op die onderste foto’s, wie se ma nie rook nie, is duidelik kalm en gemaklik in vergelyking met die baba op die foto bo, wie se ma daagliks ongeveer veertien sigarette rook.

Die navorsers het deur middel van vier-dimensionele ultraklank beelde  bevind dat die fetusse van ma’s wat rook betekenisvol meer mond bewegings en self-aanraking getoon het as babas wie se ma’s nie gerook het nie. Namate die swangerskap gevorder het, het die verskille tussen die babas van rokende teenoor nie-rokende moeders ook al groter geword.  Die navorsers skryf dit daaraan toe dat die fetale sentrale senuweestelsel, wat beweging en gesigsuitdrukkings beheer, nie op dieselfde wyse en teen dieselfde tempo ontwikkel as die van babas van nie-rokende moeders nie.

Volgens die hoofnavorser, Nadja Reissland, bevestig die huidige studie vorige navorsingsbevindings dat stress en depressie by swanger moeders ‘n groot invloed uitoefen op fetale bewegings, maar dit toon ook duidelik dat blootstelling aan nikotien as sulks ‘n sterk negatiewe invloed uitoefen.  Sy spreek die hoop uit dat hierdie beelde as opvoedkundige hulpmiddels aangewend sal word, sodat swanger vroue gesonder lewenstyl keuses sal maak.

Ondanks wêreldwye anti-rook veldtogte en ‘n verbod op rook in openbare plekke het die Centre for Disease Control and Prevention in Amerika gedurende 2011 bevind dat 10 % van vroue tydens die laaste drie maande van swangerskap steeds gerook het.

 

 

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1