Nuus Flitse

Babas in meertalige omgewings onderskei beter tussen musiekklanke

Babas wat grootword in omgewings waar hulle aan meer as een taal blootgestel word kan toonhoogte verskille beter onderskei as dié wat net aan een taal blootgestel word.

Navorsers het bevind dat babas in meertalige omgewings beter tussen twee vioolklanke kon onderskei as hul eweknieë wat aan net aan een taal blootgestel is. Die babas se meertalige blootstelling stel hul in staat om klein verskille in klanke in die omliggende omgewing op te tel, ongeag of die klanke van taal of musiek afkomstig is.

Vroeëre navorsingstudies het al bevind dat ’n toontaal, soos Chinees, musiek waarnemingsvermoë ondersteun, waarskynlik oor die uitgebreide gebruik van intonasie op verskillende woorde in daardie taal. Die huidige navorsing toon dat meertalige blootstelling dieselfde voordele inhou.

Klanksensitiwiteit
Wanneer kinders twee verskillende tale leer, ontwikkel hulle ’n meer komplekse, gedetailleerde  ouditiewe stelsel, met oorkoepelende klank-vermoëns wat tot beter algemene akoestiese begrip lei. Die feit dat die babas subtiele verskille tussen die twee tale waarneem en onderskei word oorgedra na ander klanke, soos musiek. Die verwisseling van tale leer hulle ook om meer bewus te wees van akoestiese detail en dien as voortdurende oefening vir die brein en ore.

Voordele van meertaligheid
Die voordele van tweetaligheid is nie net beperk tot taal nie. Wanneer tweetaliges kommunikeer word alle tale wat hulle ken deur die brein geaktiveer. Die brein is dus die hele tyd besig met ’n taal onderdrukking- /aktiveringsproses. Dit stimuleer kognitiewe vermoëns sodat meertaliges se denke uiteindelik meer aanpasbaar, abstrak en kreatief is.

Die voordele wys vroeg reeds. Bo en behalwe beter akoestiese sensitiwiteit vir taal en musiek vaar meertalige babas ook beter op die volgende:

  • Oplettendheid vir nuwe inhoude;
  • Die vermoë om reeds geleerde reëls te onderdruk en oor te skakel na nuwe reëls, reaksies of teikens;
  • Brein soepelheid, met neurale sensitiwiteit vir klanke in ander tale;
  • Onderskeidings en erkenning tussen tale;
  • Die aanleer van twee taalstrukture op dieselfde tyd;
  • Vermoë om die spreker se bedoeling te snap;
  • Sensitiwiteit vir visuele leidrade in taal;
  • Sosiale kommunikasievermoëns;
  • Groter werkgeheue kapasiteit; en vele meer.

Hou meertaligheid nadele in?
Die mening is lank gehuldig dat kinders wat meertalig grootword stadiger ontwikkel. Navorsers het egter bevind dat meertalige kinders vroeg reeds die vermoë ontwikkel om die tale te skei en die pas waarteen hulle taal aanleer is geensins stadiger as in die geval van eentalige kinders nie.

(Sien ook https://medicalxpress.com/news/2016-11-bilingual-babies-musical.html)

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1