Nuus Flitse

Voel jy vet? Geringe verandering kan gewigsverlies meebring

plate_with_measuring_tapeHoe groter jou bord, hoe meer kos skep jy in en hoe meer kalorieë neem jy in!! Navorsers het bevind dat indien jy vanaf ‘n bordgrootte van 30 cm in deursnee afskaal na 25 cm, jy 22% minder kalorieë sal inneem.

Uitgebreide navorsing is reeds oor ‘n tydperk van ‘n aantal jare oor hierdie onderwerp gedoen, maar dit het teenstrydige en onvergelykbare resultate gelewer. ‘n Samevatting van meeste van hierdie studies wat oor ‘n periode van jare gedoen is het nou egter onteenseglik bewys dat ‘n kleiner bord tot kleiner porsiegroottes lei.

Twee baie belangrike voorwaardes geld egter.

Eerstens is dit belangrik dat die verbruikers hulself moet bedien. ‘n Buffet waar kleiner borde verskaf word sal mense dus aanmoedig om kleiner porsies in te skep, en derhalwe minder te eet.

Tweedens werk hierdie beginsel beter indien die verbruikers bewus is dat hulle dopgehou word. Mense is geneig om matigheid voor oë te hou as hulle weet dat hul gedrag waargeneem word.

Verder is daar ook ‘n beperking op hoe klein die bord kan wees. Die navorsers het bevind dat wanneer bordgrootte onder 24 cm in deursneë daal, mense begin besef dat hulle hulself mislei, en dan vir ‘n tweede en derde keer sal gaan opskep.

Volgens die studie kan ‘n bord wat 25 cm in deursnee is ‘n gewigsverlies van tot 8 kg oor ‘n jaar periode meebring.

Die navorsers glo dat hierdie verskynsel veroorsaak word deur die sogenaamde Delboeuf illusie. Delboeuf het so vroeg as 1856 reeds bevind dat indien twee identiese sirkels op onderskeidelik ‘n heelwat groter sirkel en ‘n effens groter sirkel geplaas word, hulle nie meer identies voorkom nie. Die een op die heelwat groter sirkel lyk groter as die een op die effens groter sirkel.

In die werklike lewe is die implikasie dat die grootte van eetware veroorsaak dat porsiegroottes onderskat of oorskat word. Wat min lyk op ‘n groot bord lyk baie op ‘n klein bord, met die gevolg dat die porsies in werklikheid groter of kleiner is as wat die persoon dit skat.

Bordgroottes het vanaf die 1900’s ongeveer 23% in omtrek toegeneem. Indien bordgrootte ‘n persoon sou aanmoedig om net 50 meer kalorieë per dag in te neem, sal dit wiskundig bereken op 2.26 kg per jaar neerkom. Dit kan dalk gedeeltelik verklaar waarom die wêreld tans ‘n “vet epidemie” beleef.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1