Nuus Flitse

Wraak is inderdaad soet

Sosiale verwerping ontstel mense emosioneel. Deur wraak te neem kan hierdie negatiewe emosionele toestand herstel word. 

Sosiale verwerping laat mense emosioneel ontsteld voel, wat dan by hulle ‘n behoefte skep om  hierdie negatiewe emosionele toestand te wil herstel.  Wraak bied ‘n kanaal waardeur homeostate weer bereik kan word, aangesien wraakgerigte aggressie gepaard gaan met ‘n lekker gevoel wat die gemoedstemming kan herstel.

Vorige studies het reeds getoon dat mense voel dit is geregverdig om wraak te neem teen dié wat hulle ingedoen het, en dat dit die beloningsentrums van die brein aktiveer. David Chester en C. Nathan DeWall het die idee getoets dat sosiale verwerping mense verwond en ongewens laat voel, en dat dit ‘n behoefte skep om die gemoedstemming te herstel, deur die bevrediging wat verkry word deur dié wat ons seergemaak het skade aan te doen.

Deelnemers aan hierdie studie is gevra om ‘n opstel te skryf oor ‘n persoonlike onderwerp.  Hierna moes hulle die opstel met ander deelnemers deel sodat hulle terugvoer kon ontvang. Een groep van die deelnemers het onvriendelike, nors terugvoer ontvang, wat deur die navorsers voorberei is, soos “een van die swakste opstelle wat ek nog ooit gelees het”. Die navorsers het die deelnemers se gemoedstoestand (luim) gemeet voor en nadat hulle die geleentheid gegun is om op simboliese wyse aggressie te ontlaai deur spelde in ‘n virtuele voodoo-pop te steek wat die persoon verteenwoordig het wat die terugvoer aan hulle verskaf het. Hierdie handeling het inderdaad daartoe gelei dat die “verstote” deelnemers se gemoedstoestand aansienlik verbeter het, tot so ‘n mate dat hulle nie onderskei kon word van die deelnemers wat positiewe terugvoer ontvang het nie.

Maar indien wraak die gemoedstemming verbeter beteken dit steeds nie dat mense aggressief optree met die doel om hul luim te verbeter nie. Die navorsers wou die die motiewe van die deelnemers ondersoek. 154 van die deelnemers is terug genooi na die laboratorium. Elke deelnemer moes ‘n pil drink, en daar is aan hulle gesê dat die pil hulle verstandelik beter sou laat funksioneer tydens ‘n toets wat hul daarna sou aflê. Aan sommiges is gesê dat die pil ‘n besondere newe-effek het: dit veroorsaak dat gemoedstemming onveranderd bly. Die pil was in der waarheid ‘n placebo en het geen uitwerking gehad nie.

Al die deelnemers het hierna aan ‘n rekenaarspeletjie deelgeneem waartydens hulle saam met twee ander deelnemers ‘n bal heen en weer gestuur het. Dié in die “verwerpings-groep” het ‘n koue ontvangs van die ander twee deelnemers gekry (in der waarheid vooraf geprogrammeerde rekenaar response), en het net 3 uit ‘n totaal van 30 balle ontvang, vergeleke met ‘n gelyke deel wat aan die “aanvaarde-groep” kandidate gegee is.

Na die speletjie moes die kandidate beoordeel hoe verwerp hulle gevoel het, en is hulle die geleentheid gebied om ‘n tweede spel te speel waartydens hulle kon wraak neem teen die vorige spelmaats. Die speletjie was ‘n eenvoudige “eerste om te buzz”-spel, maar die stadiger speler is telkens deur middel van ‘n geraas in hul oorfone gestraf. Die vinniger spelers kon die geraasvlakke manupileer en opjaag tot soveel as 105 decibels.

Daar is bevind dat deelnemers wat gedurende die eerste spel in die verwerpingsgroep was, meestal verkies het om hul opponente  aan harder geluide bloot te stel, behalwe dié aan wie gesê is die pil gaan hul gemoedstoestand onveranderd laat bly. Hulle het die klank tot dieselfde laer vlakke beperk as dié wat nie vroeër verwerping beleef het nie. Dit was nie dat hulle nie deur die verwerping beïnvloed is nie, maar as gevolg van die pil het hulle geglo dat hulle gemoedstemming in elk geval nie gaan verbeter nie, gevolglik het dit vir hulle geen voordeel ingehou om hul opponente te probeer terugkry nie.

Die navorsingsresultate toon dat klaarblyklike sinnelose aggressie tog ‘n doel kan hê en ‘n verlangde effek kan bewerkstellig. Alhoewel hierdie navorsing gefokus het op aggressie wat as gevolg van verwerping ontlok is, kan dit ook verklarend wees ten opsigte van ander situasies waar aggressie ‘n geloofwaardige roete kan wees om ‘n slegte luim te verbeter.

 Navorsers Chester en DeWall spekuleer dat, ten einde die positiewe effek te beleef wat met vergeldingsverwante aggressie verkry word, individue in hul daaglikse lewe ook tot aktiewe provokasie kan oorgaan. Die navorsers stel voor dat mense gesonder alternatiewe moet kies, soos meditasie, refleksie, ens. Die verligting wat aggressie verskaf is ‘n bose troos en dit sal positief op die samelewing inwerk indien  daardie gewoonte verbreek kan word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1