Nuus Flitse

Waarom is selfies so gewild?

Selfies is deesdae geweldig populêr.  Google statistieke het in 2014 reeds beraam dat 93 biljoen selfies  per dag geneem word. Selfie-stokke is topverkopers en selfone word aangepas om die neem van daarvan makliker te maak. Die gewoonte het homself duidelik stewig in die samelewing gevestig.

Heelwat navorsing is reeds oor selfies gedoen en bevindings wissel vanaf positief tot negatief. Sommige navorsers beklemtoon die kreatiewe waarde van selfies en die moontlikhede wat dit skep om emosies oor te dra. Andere spreek kommer uit oor die oordrewe selfverheerliking of afkeur van die self wat daarmee gepaard kan gaan.  By adolessente meisies kan dit bv. aanleiding gee tot oordrewe beklemtoning van gewig en liggaamsbou en ontevredenheid met die self. Nog andere is bekommerd oor die potensiaal daarvan om konflik binne verhoudings te veroorsaak en die feit dat dit onegtheid en narsisme aanmoedig. Die mening word gehuldig dat, wanneer jy ’n foto van jouself neem, dit nooit ’n egte blik op jou lewe kan bied nie – dit is eerder ‘n oordrewe beelding van hoe die fotonemer wil hê buitestaanders hom moet sien.

Selfies is egter veel meer as net foto’s. Dit het ook ‘n intrinksieke sielkundige waarde en agter elke selfie lê ‘n motief, spesifieke voordele wat dit vir die nemer van die foto inhou en die selfuitdrukking van ‘n bepaalde beeld wat die fotonemer probeer uitdra.

Sarah Diefenbach, professor by Ludwig-Maxmilians-Universiteit in Munich het ‘n aanlyn studie gedoen om mense se motivering en oordeel te bepaal wanneer hulle selfies neem of daarna kyk. In totaal het 238 mense uit Oostenryk, Duitsland en Switserland aan die studie deelgeneem.  Sewe-en-sewentig persent van die deelnemers het aangedui dat hulle gereeld selfies geneem het.

Diefenbach het bevind dat  die motivering agter die neem van die selfies meestal toegeskryf kon word aan self-promosie en self-onthulling.  Selfies is ’n advertensie van die self waardeur die persoon sy positiewe kenmerke aan die gehoor wil vertoon. So ook is persone wat geneig is tot onderbeklemtoning van hul prestasies en talente, dus die meer nederiges, minder geneig om selfies te neem.  Diefenbach het bevind dat deelnemers aan die studie wat tydens die afneem van die persoonlikheidstoets hoë tellings behaal het tov  self-promosie en self-onthulling veel eerder selfies sou neem as die wat hul prestasie onderbeklemtoon het.

Andersins is selfies  ’n manier van self-ontbloting of self-onthulling waartydens ’n privaat oomblik met die res van die wêreld gedeel word, dikwels met die doel om simpatie te verkry.  Selfies het beslis die potensiaal om  selfuitdrukking en identiteteitsverkenning aan te moedig. Dit kan innerlike perspektiewe bring wat andersins verlore sou gaan. Tog blyk die uitwaartse openbare  aanbieding steeds die primêre funksie van selfies te wees en word dit dikwels gebruik om ’n bepaalde beeld voor te hou.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1