Nuus Flitse

Musiek gee jou koue rillings? Jy het waarskynlik n unieke brein.

Wanneer sommige mense na musiek luister, ervaar hulle intense genot, tot so ‘n mate dat hul asemhaling en hartklop verander, dat hulle koue rillings ervaar en hoendervel kry. Navorsers aan die University of Southern California se Kreatiwiteitsinstituut het ondersoek ingestel na watter tipe persone so reageer op musiek, en hoekom.

Menslike wesens is uniek daarin dat hulle estetiese inhoude, soos die kunste en musiek geniet en geweldig baie plesier kan put uit komplekse stumilie wat geen duidelike inherente voordele inhou vir die voortbestaan van die spesie nie. Estetiese plesier aktiveer dieselfde beloningsentra  in die brein as wanneer basiese sensoriese genot ervaar word, soos tydens eet-aktiwiteite, seks of wanneer dwelms gebruik word.

Daar kom egter groot verskille tussen mense voor wat betref die tipe estetiese stimulie wat gevoelens van genot aanwakker, en hoe intens die genot ervaar word – ondanks die feit dat beloningsisteme by alle mense voorkom, sal almal nie dieselfde genot ervaar wanneer hulle na musiek luister nie. Vorige studies het bevind dat musiekwaardering beïnvloed word deur musikale vermoë, bekendheid met die musiek, die persoon se betrokkenheid sowel as die persoonlikheidsdimensie van “oopheid vir ervaring”.

Navorsers aan die University of Southern California se Kreatiwiteitsinstituut het nou bevind dat daar strukturele verskille voorkom in die breine van mense wat musiek so baie geniet dat hulle koue rillings daarvan kry. Hulle breine bevat ‘n groter volume van die vesels wat hul gehoorsentrum verbind met breinareas waar emosionele inhoude verwerk word, wat impliseer dat daar beter kommunikasie tussen die twee sentra is. As gevolg van die beter kommunikasie, word data tussen die twee sentra dus meer doeltreffend geprosesseer.

Tydens die huidige studie is daar aanvanklik ‘n grootskaalse siftingsproses uitgevoer, waartydens emosionele response wanneer mense na musiek geluister het, ontleed is. Tien deelnemers wat deurgaans koue rillings ervaar het is geïdentifiseer, sowel as tien deelnemers wat dit nooit of baie selde ervaar het.  Geslag, ouderdom, persoonlikheidsfaktore en musikale opleiding is konstant gehou tussen die twee groepe. Terwyl die deelnemers na musiek geluister het is psigofisiologiese aanduiders, soos harklop en vel-geleiding gemonitor. Diffusie Tensor Beelding is gebruik om strukturele konnektiwiteit te meet.

Die Duffisie Tensor Beelding het getoon dat witstof verbindings tussen die ouditiewe perseptuele areas en die breinareas wat met emosionele en sosiale prosessering verband hou, verskil tussen mense wat koue rillings ervaar en dié wat nie. Witstof konnektiwiteit het sterk gekorreleer met die ervaring van koue rillings en dit wil voorkom of individue met hoër strukturele konnektiwiteit in hierdie areas meer geneig is om koue rillings te ervaar. Die verskille kan nie toegeskryf word aan geslag, etnisiteit, intelligensie, taalverskille of die aantal jare van musiekopleiding nie.

Hoër witsof konnektiwiteit is voorheen waargeneem by persone met hoë sosiale empatie terwyl minder witstof voorgekom het by individue met emosionele remmings, soos outisme. Die implikasie is dat persone wat nie emosionele response op musiek ervaar nie waarskynlik ook meer vatbaar kan wees vir onsensitiwiteit of selfs belemmering in emosionele en sosiale funksioneringsareas.

Mense wat koue rillings kry wanneer hulle musiek luister se vermoë om intense emosies te ervaar is dus as’t ware beter as ander mense s’n. Luidens die hoofnavorser, Matthew Sacks, kan die bevinding in hierdie stadium net op musiek van toepassing gemaak word aangesien die studie op die ouditiewe korteks gekonsentreer het. Bykomende bevindings kan moontlik in die toekoms verkry word indien die navorsingsontwerp uitgebrei sou word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1