Nuus Flitse

Vrees vir spinnekoppe is aangebore

Tot onlangs kon wetenskaplikes nie eenstemmigheid bereik of vrees vir spinnekoppe en slange inherent of aangeleer is nie. Navorsers aan die Max Planck Institute for Human Cognitive and Brain Sciences het nou egter ontdek dat dit oorerflik is: selfs babas toon stres wanneer hulle met hierdie spesies in aanraking kom – lank voor hulle so ‘n reaksie kon aanleer.

In meeste eerstewêreldslande, veral in midde-Europa, kom mense nie gereeld met giftige spinnekoppe en slange in aanraking nie. Tog is daar min mense by wie die gedagte aan ‘n spinnekop wat teen jou arm opkruip nie koue rillings teen die ruggraat sal afstuur nie, selfs al is dit ‘n nie-giftige en onskadelike spinnekop!

‘n Vrees vir spinnekoppe kan selfs ontwikkel tot ‘n akkute angstoestand wat negatief inwerk op ‘n persoon se daaglikse funksionering. Sommige mense is byvoorbeeld te bang om ‘n vertrek binne te gaan alvorens dit nie “spinnekopvry” verklaar is nie, of hulle is te bang om buitenshuis te beweeg omdat hulle vrees om ‘n slang tee te kom. In ontwikkelde lande ly ongeveer 5% van die samelewing aan so‘n sielkundige fobie.

Tot in hierdie stadium was dit nie duidelik waar hierdie vrees vandaan kom nie. Baie wetenskaplikes was van mening dat dit ‘n vreesreaksie is wat aangeleer is as gevolg van blootstelling tydens die kinderjare, terwyl andere geglo het dat dit ‘n aangebore reaksie is. Die probleem met studies wat reeds gedoen is was dat volwassenes of ouer kinders gebruik is, wat dit besonder moeilik gemaak het om te bepaal of dit ‘n aangeleerde of aangebore respons is.

Navorsers aan die Max Planck Instuut in Leipzig en die Uppsala Universiteit in Swede het nou egter ontdek dat selfs babas so jonk as ses maande ‘n stres reaksie toon wanneer hulle met hierdie spesies gekonfronteer word. Op hierdie ouderdom is die babas nog nie werklik mobiel nie en is dit baie onwaarskynlik dat hulle geleentheid kon hê om so ‘n reaksies aan te leer.

Wanneer prentjies van ‘n slang of spinnekop aan die babas getoon is, in plaas van ‘n blom of vis van dieselfde kleur en grootte, het hul pupille beduidend groter geword. In toestande waar die beligting konstant gehou word, is dit ‘n belangrike aanduiding dat die deel van die brein waar die stresreaksie gesetel is, geaktiveer is. Van verdere betekenis was die feit dat self die jongste baba hierdie stresreaksie getoon het.

Die navorsers het derhalwe tot die gevolgtrekking gekom dat ‘n vrees vir slange en spinnekoppe evolusionêr in oorsprong is. Soortgelyk aan die breine van primate, stel die mens se brein hom  in staat om objekte soos slange en spinnekoppe te identifiseer, en vinnig daarop te reageer. Hierdie inherente stresreaksie predisponeer dan ook ‘n leerreaksie, sodat  hierdie spesies in die brein as gevaarlik gemerk word. Wanneer hierdie reaksie deur ander omgewingsfaktore versterk word kan dit tot ‘n werklike sielkundige fobie ontwikkel. Indien die ouers byvoorbeeld ‘n sterk afversie toon, of ‘n geneties predisposisie het tot ‘n ooraktiewe amygdala, wat die intensiteit van gevare beoordeel, kan dit tot oordrewe vrees lei.

Interessant genoeg het ander studies bevind dat babas geen vreesreaksie getoon het op prente van gevaarlike diere, soos renosters en bere nie. Die navorsers skryf dit daaraan toe dat die mens vir ongeveer 40 tot 60 miljoen jaar reeds hul habitat deel met spinnekoppe en slange – baie langer as met gevaarlike diere. Die vrees vir spinnekoppe en slange is dus diepgesetel omdat dit evolusionêr vir ‘n baie lang tydperk reeds in die brein gegraveer is. – MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1