Nuus Flitse

Wie is jy op sosiale media?

Wie is jy op sosiale media? Nuwe navorsing ondersoek die norms van aan-lyn persona’s.

Volgens die Pew Research Center, wat beskryf word as ‘n onpartydige Amerikaanse feite-tenk, het die meerderheid volwasse persone wat aktief op die Internet is meer as een sosiale netwerk profiel. Alhoewel die kerndoel van die netwerke dieselfde is – om portuurgroepe, vriende en geliefdes met mekaar in verbinding te bring – het navorsers aan Penn State’s College en die King’s College in London, bevind dat dieselfde persoon dikwels verskillende persona’s, wat uniek is aan elke netwerk, op die verskillende netwerke het.

Die navorsingspan, wat gesamentlik gelei is deur Dongwon Lee van Penn State University en Nishanth Sastry van King’s College, spekuleer dat gebruikers probeer inpas by die kenmerkende kultuur en etiket van die onderskeie sosiale netwerke, en daarom neem hulle verskillende persona’s aan. ‘n Foto van jou kleurvolle Starbuck’s drankie kan bv gewild wees op Instagram, maar sal onvanpas wees op LinkedIn.

Die navorsingstudie is saamgestel uit die data van meer as 100 000 sosiale media gebruikers. Die data is bekom deur gebruik te maak van About.me, ‘n webtuiste wat as sosiale media gids dien.  ‘n Analise van die profielfoto’s en biografiese inligting van die gebruikers het verrassende insigte gebied oor hoe verskillende demografiese gegewens aangebied is. Daar is bv bevind dat vroue minder geneig was om brille te dra op hul profielfoto’s en dat gebruikers jonger as 25 jaar minder geneig was om te glimlag. Die navorsers kon ook in 60 – 80 % van die gevalle die sosiale media platform identifiseer wanneer die profielbeskrywing en foto tot hulle beskikking was.

Die navorsers is van mening dat die gebruikers nie  met opset verskillende profiele en foto’s verskaf vir verskillende sosiale netwerke nie. Hulle glo dat hulle eerder onbewustelik aanpassings maak om te kan inpas by elke netwerk. Aldus Sastry wys die data dat, alhoewel dit subtiel plaasvind, stereotipes van geslag en ouderdom steeds die verskillende persona’s beïnvloed. Hy verduidelik dat sosiale media in toenemende mate ‘n deel van ons lewens inneem. Daarom is dit belangrik om te verstaan hoe ons met mekaar in interaksie tree op sosiale media platforms, en hoe ons sinvol met mekaar kan assosieer in die virtuele wêreld.

Volgens Lee laat mense in die sosiale era hulle merk sonder dat hulle besef hulle doen dit. Deur hierdie sosiale voetspore te ontleed kan mens baie leer oor gedrag.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1