Nuus Flitse

Breinstimulasie verhoog eerlikheid

Navorsers aan die Universiteit van Zurich het daarin geslaag om die breinmeganismes te identifiseer wat die besluit om eerlik te wees teenoor die besluit om eerder eiegewin na te jaag, reguleer. Deur nie-indringende breinstimulasie toe te pas kon hulle selfs daarin slaag om eerlike gedrag te verhoog.

Konflik tussen eerlikheid en eiegewin

Oneerlikheid kan omvattend wees en ‘n ingrypende sosiale en ekonomiese invloed uitoefen.Ondanks formele wetgewing is dit moelik om eerlikheid af te dwing en soms onmoontlik om oneerlikheid te verhoed.  In 2015 is bv geraam dat Suid-Afrika gedurende die afgelope 20 jaar ongeveer 700 biljoen rand verloor het weens oneerlikheid en korrupsie!

Vandat menslike wesens die eerste keer die aarde bewandel het bestaan die konflik tussen eerlikheid en eiebelang. Tog is min inligting beskikbaar oor die neurale prosesse wat mense in staat stel om hierdie konflik bevredigend op te los. Begrip van die breinprosesse betrokke by eerlikheid kan nuwe perspektief bring en kan help om beter leuenverklikkertoetse te ontwerp en beter behandelingsmetodes te skep om patologiese kullery teen te werk.

Die studie

Vorige studies op hierdie gebied is nie regtig van waarde nie omdat die deelnemers nie met die konflik gekonfronteer is dat hulle materiëel kon baat indien hulle oneerlik sou wees nie. Tydens die huidige studie is 145 deelnemers aan ‘n regte voordeel/nadeel-afspeling tussen eerlikheid en persoonlike materiële gewin, blootgestel. Die deelnemers kon bv hul winste verhoog deur te kul eerder as om eerlik te wees.

Baie van die deelnemers het gekul maar heelwat het ook verkies om eerlik te wees. Meeste mense het eiebelang opgeweeg teen eerlikheid vanaf geval tot geval; hulle het ‘n bietjie gekroek, maar nie elke keer nie, aldus Michel Maréchal, UZH Professor in Eksperimentele Ekonomie. Maar, ongeveer 8% van die deelnemers het gekroek net waar hulle kon, om sodoende hul winste tot maksimum te rek.

Minder leuens na breinstimulasie

Die navorsers het direkte transkraniale stroom-stimulasie toegepas op die regter dorsolaterale prefrontale korteks van die brein. Dit maak breinselle meer sensitief en aktief. Wanneer hierdie stimulasie gedurende ‘n taak toegepas is, was die deelnemers minder geneig om te kul. Maar, heel laas Suid-Afrika, breinstimulasie gaan nie help vir Jacob Zuma nie! Die aantal deurlopende kullers het steeds onveranderd gebly.  Christian Ruff, UZH Professor in Neuro-Ekonomie skryf dit daaraan toe dat die stimulasie net kullery verminder het by dié deelnemers wat morele konflik ervaar het. Dié wat daartoe verbind was om maksimum winste te maak se besluitneming is nie daardeur geraak nie.

Konflik tussen geld en morele waardes

Die navorsers het bevind dat die stimulasie alleenlik die proses beïnvloed het waartydens materiële gewin teenoor morele waardes opgeweeg is. Konflik wat nie morele waardes ingesluit het nie is nie geraak nie, bv finansiële besluite wat risiko ingesluit het, dubbelsinnigheid of vertraagde beloning. Op dieselfde manier het die stimulasie nie eerlike gedrag beïnvloed wanneer kullery ‘n ander persoon bevoordeel  het en nie die persoon self nie.Dit wys dat die gestimuleerde neurobiologiese proses uitsluitlik afspeling tussen materiële eiegewin en eerlikheid opgelos het.

Ontwikkeling van begrip vir die biologiese basis van gedrag

Die navorsers is van mening dat hulle bevindings ‘n belangrike eerste tree is om die breinprosesse te identifiseer wat mense in staat stel om eerlik op te tree. Dit laat ook die vraag ontstaan tot watter mate eerlikheid gegrond is op ‘n biologiese predisposisie, wat baie belangrik kan wees in die regspleging. Opsommend sê Michel Maréchal dat indien oneerlikheid ‘n organiese toestand verteenwoordig, die vraag is tot watter mate mense aanspreeklik gehou kan word wanneer hulle oortree.-MedicalXpress

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1