Nuus Flitse

Moet ouers jok oor Vader Kersfees?

Dit is alweer dààrie tyd van die jaar! Winkels is oorvol speelgoed, gemaalde vrugte-pasteitjies en Kersversierings.  Kersliedjies speel oor en oor en ouers soek naarstiglik na geskenke wat Vader Kersfees vir “kindertjies wat soet was gedurende die jaar” gaan aflewer……..

santa

Miljoene ouers wil graag die fantasiewêreld van kersliggies, ’n slee met bokkies in ‘n sneeubedekte landskap en ‘n man met ’n lang wit baard, gekleë in ‘n rooi Kersfeespak, so lank as moontlik vir hul kinders lewendig hou. Hulle oortuig hul kinders dus dat Vader Kersfees ‘n werklikheid is.

Volgens sielkundige Christopher Boyle en geestesgesondheids-navorser Kathy McKay kan die Santa-leuen egter skadelik wees en kan dit kinders se vertroue in hul ouers ondermyn. As ouers oor iets so spesiaal kan jok, kan hulle dan vertrou word as die behoeders van wysheid en die waarheid?  Verder is die idee van ‘n “alsiende oog” wat kinders beoordeel as soet of stout baie vreesaanjaend. Volgens Prof. Boyle moet die moraliteit van sulke mites ernstig bevraagteken word.

Alle kinders vind een of ander tyd uit dat daar jare lank vir hulle ’n leuen opgedis is en dit laat hulle wonder watter ander leuens aan hulle vertel is.  Wat is die invloed van hierdie leuens op die kinders?  Volgens die navorsers kan spesiale omstandighede ‘n leuen regverdig, bv. om aan ‘n klein kind te sê sy geliefde troeteldier wat dood is, is hemel toe, eerder as om die naakte werklikheid bekend te maak. Maar die Vader Kersfees fantasie is dalk meer gerig op bevrediging van die ouers se eie behoeftes.  Vir volwassenes bied dit die geleentheid om self te regresseer na die tyd toe hulle aan fantasiefigure en toorkragte kon glo.

Volgens Dr. McKay, wat verbonde is aan die Universiteit van New England in Australië, is die volharding met fantasiestories soos Harry Potter, Star Wars en Doctor Who tot op ‘n rype volwasse ouderdom aanduidend van die behoefte om terug te keer na die kinderfase. Baie volwassenes smag na die tyd toe verbeelding aanvaarbaar was en aangemoedig is, terwyl dit nie altyd in die volwasse wêreld goedgekeur word nie. Die outeurs sluit af deur te vra of die Santa-leuen dalk geskoei kan wees op die behoefte aan tydelike ontvlugting uit die feldheid van die volwasse lewe en daarom word ‘n fantasie geskep wat toelaat vir die terugkeer na ‘n verlore kindertyd van lank lank gelede.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1