Nuus Flitse

Die geheim om goedkoop wyn duur te laat smaak

Verbruikersverwagting beïnvloed smaak

 

Wat is die geheim om goedkoop wyn duur laat smaak? Verhoog die prys en verkoop dit as duur wyn!

Die prys van wyn beïnvloed die smaak daarvan. Dieselfde wyn smaak klaarblyklik baie lekkerder wanneer ‘n duur prysetiket daaraan gekoppel word!

Prof Bernd Weber van die Sentrum vir Ekonomie en Neurowetenskappe an die Universiteit van Bonn, met rooiwyn soortgelyk aan dié wat tydens die eksperiment gebruik is.

Verwagtings beïnvloed en vorm verbruikers se belewing van ‘n produk. Navorsers het bevind dat produkinligting, soos prys, by verbruikers sekere verwagtings skep oor die smaak en kwaliteit van ‘n produk. Verbruikers glo daarom dat duurder wyn beter sal wees en lekkerder sal smaak as die goedkoper vareïteit. Dit staan bekend as prysvooroordeel en die word deur die besluitneming en motiveringsentra van die brein beheer. Verbruikers voorsien dus dat wyn wat hoër geprys is lekkerder sal smaak en gevolglik vind breinveranderinge dienooreenkomstig plaas in die breinareas wat vir smaakprosessering verantwoordelik is.

Vyftien mans en vyftien vroue het aan ‘n wynproe-eksperiment deelgeneem waartydens hul breinaktiwiteit deur middel van magnetiese resonansbeelding getoets is. Hulle is elke keer eers ingelig oor die prys van ‘n sekere wyn, waarna hulle die wyn geproe het, dmv ‘n pypie in hul monde. Daarna moes hulle die wyn op ‘n nege punt skaal beoordeel, deur die druk van ‘n knoppie. Voordat die volgende wyn “toegedien” is, is hulle palette deur ‘n neutrale vloeistof skoongemaak. Wat die deelnemers nie geweet het nie, was dat hulle herhaaldelik dieselfde wyn geproe het. Al wat verskil het, was die prys.

Hulle het feitlik deurgaans aangedui dat die duurder wyn lekkerder gesmaak het. Hul breinaktiwiteitsmetings het dit bevestig. Die navorsers het bevind dat meer aktiwiteit in die beloning- en motiveringsentra van die brein plaasgevind het wanneer die prys hoër was, in vergelyking met laer pryse. Dit het dan die smaakervaring verhoog. Dit het geen verskil gemaak of die deelnemers vir die wyn moes betaal nie en of dit gratis aan hulle gebied is nie. Die smaakervaring was elke keer beter wanneer dieselfde wyn duurder aangebied is.

Daar is egter ‘n limiet waarbo die plasebo effek nie meer sal werk nie. Die invloed sal uit die aard van die saak afwesig wees indien ‘n baie lae kwaliteit wyn teen R1500.00 aangebied word. Die navorsers het ‘n gemiddelde kwaliteit rooiwyn gebruik, met ‘n markprys van ongeveer R185.00 per bottel.  Tydens die proesessie is die deelnemers meegedeel dat die wyn onderskeidelik R46.00, R92.00 en en R278.00 gekos het.

Duidelik flous die brein se beloning en motiveringsentra mense om te glo dat die duurder wyn lekkerder smaak. Die vraag is nou of die betrokke breinareas geleer kan word om minder vatbaar te wees vir plasebo bemarkingstrategieë.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Gaan Terug
UA-87163025-1