Nuus Flitse

Jou slimfoon maak jou dom!

Meeste mense kan hul nie meer die lewe indink sonder hul slimfoon nie en ontwikkel skeidingsangs die oomblik wat hulle vanmekaar is. Met jou slimfoon is jy 24 uur per dag in verbinding met jou vriende, familie, kollegas, ander maatskappye, produkinligting, winkels en nog baie meer.  Maar, wat jy nie besef nie is dat hierdie voorreg gepaard gaan met groot kognitiewe kostes. Navorsers het bevind dat die blote aanwesigheid van jou slimfoon die breinkrag tot jou beskikking aansienlik verminder.

‘n Enkele dekade gelede was die huidige gekonnekteerdheid ondenkbaar. Slimfoongebruikers kommunikeer gemiddeld 85 keer per dag met mekaar – letterlik vandat hulle hul oë in die oggende oopmaak tot hulle dit in die aand sluit. Statistieke wys dat 91% van mense nooit die huis sonder hul slimfoon verlaat nie en 46% glo dat hulle nie daarsonder kan leef nie. Maar, hoe beïnvloed ons afhanklikheid van slimfone ons vermoë tot rasionele denke en taakverrigting?

Eksperimente is gedoen met ongeveer 800 gebruikers van slimfone om die invloed van slimfone op taakverrigting te bepaal. ‘n Reeks toetse wat volle konsentrasie vereis is afgeneem met die doel om kognitiewe kapasiteit te meet – dit wil sê die brein se vermoë om data te ontvang en te prosesseer op ‘n gegewe oomblik. Die deelnemers is lukraak in groepe ingedeel wat hul slimfone met die gesig na onder op die lessenaar, of in hul sakke of handsakke, of in ‘n ander vertrek moes bêre.

Die navorsers het bevind dat die blote aanwesigheid van ‘n slimfoon breinkapasiteit en kognitiewe funksionering aansienlik verminder het, selfs al het die deelnemers gevoel dat hulle honderd persent op die taak gefokus was. ‘n Liniêre verband is gevind – hoe meer sigbaar die slimfoon was, hoe kleiner was die beskikbare breinkapasiteit. Alhoewel jy nie bewustelik aan jou slimfoon dink nie, verbruik jy breinkrag tydens die proses om jouself te oortuig om nie op die slimfoon te konsentreer nie. Die proses veroorsaak “brein dreinering”.

Tydens nog ‘n eksperiment het die navorsers ondersoek tot watter mate selfgerapporteerde slimfoon-afhanklikheid breinkapasiteit beïnvloed. Dieselfde toetse as tydens die eerste eksperiment is afgelê, terwyl die deelnemers lukraak gevra is om hul slimfoon met die gesig na onder, in hul sak of  ‘n ander sak, of in ‘n ander vertrek te stoor. Sommiges is ook gevra om hulle fone af te skakel.

Die bevindings het gewys dat die persone wat die afhanklikste van hul slimfone was die swakste presteer het, maar net indien hul fone op die lessenaar of in hul sakke was. Dit het geen verskil gemaak het of die selfoon afgeskakel was of met die gesig na onder gelê het nie. Die blote feit dat die foon binne sig was het taakverrigting benadeel, aangesien ‘n deel van die brein aktief besig is om die persoon te verhoed om die foon op te tel. Dit is nie asof die deelnemers kennisgewings ontvang het dat boodskappe ingekom het nie – die blote teenwoordigheid van die selfoon het breinkapasiteit verminder.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1