Nuus Flitse

Multitaak-verrigting op die web

Waarom vind sommige mense dit baie moeiliker as ander om op dieselfde tyd sinvol tussen verskillende webblaaie te beweeg om inligting oor ’n verskeidenheid onderwerpe te bekom? Die antwoord lê in werkgeheue

Werkgeheue word dikwels beskryf as die vermoë om sekere inligting te behou en terselfdertyd besig te wees met nuwe inligting en take. Dit is dié deel van die brein wat verantwoordelik is vir die stoor en prosessering van inligting vir kort tye en speel ’n rol in besluitneming en beplanning.  Dit bepaal konsentrasievermoë sowel as die kwaliteit en kwantiteit van inligting wat uiteindelik in die kort- en die langtermyngeheue gestoor word.

Werkgeheue is van kritiese belang by multi-taakverrigting. Vorige studies het getoon dat onderbrekings die vermoë tot multi-taakverrigting belemmer. Dit wys dat werkgeheue net ’n beperkte hoeveelheid inligtings op ’n bepaalde tyd kan behou wat ons vermoë beperk om gelyktydig aan ’n klomp verskillende goed te dink.

Dertig universiteitstudente het aan hierdie studie deelgeneem: 10 sielkundiges, 10 rekenmeesters en 10 meganiese ingenieurs. Hul werkgeheue is getoets deur eerstens ’n reeks geskrewe karakters te onthou terwyl hulle ’n wiskunde probleem moes oplos; tweedens moes hulle inligting op die Internet soek vir vier onderwerpe: twee waarvan hulle kennis gedra het en twee waarvan hulle niks geweet het nie.

Deelnemers met ’n hoë werkgeheue het meer tussen die verskillende onderwerpe en Internet soekresultate beweeg as die met laer werkgeheue. Hulle kon daarom verskillende strategieë op die proef stel en toets om die inligting wat hul benodig het te vind. Hulle het beter daarin geslaag om hul aandag tussen verskillende take te verdeel.

Dié met ’n hoë werkgeheue kon ook bestaande en nuwe kennis makliker koördineer en onderbrekings makliker hanteer. Hulle het meer begrip getoon vir die gebruik van verskillende soekenjins, om soektog navrae te formuleer, webblaaie te analiseer en resultate te stoor.

’n Interessante bevinding was dat dié met laer werkgeheue gevind het dat die onbekende onderwerpe meer ingewikkeld geraak het namate hul gevorder het. Hulle het dieselfde benaderingswyse gevolg ten opsigte van bekende onderwerpe as teenoor dié waarvan hulle geen kennis gedra het. Derhalwe kon hulle nie ander strategieë ontwikkel vir voltooiing van die taak of om die inhoud van die webblaaie te analiseer nie en was hulle minder suksesvol.

Die studie het vorige bevindings bevestig dat mense met ’n lae werkgeheue oor beperkte vermoëns beskik om hul aandag op relevante feite te fokus. In essensie het die resultate getoon dat mense met ’n lae werkgeheue nie maklik hul aandag sinvol tussen verskillende stukke inligting kon verdeel nie, veral ten opsigte van onderwerpe waarvan hulle geen vorige kennis gehad het nie.

Die goeie nuus is dat werkgeheue wel deur sekere oefeninge en prosedures verbeter kan word.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1