Nuus Flitse

Vyftig persent van mense ‘onthou’ vals feite

Die menslike geheue is uiters plooibaar en kan maklik gemanipuleer word om gebeure wat nooit plaasgevind het nie te “onthou”, het navorsers bevind.

Denkbeeldige of geplante herinneringe kan vêrreikende gevolge inhou vir psigoterapeute, medici en regsgeleerdes.  Daarom is dit van kritiese belang om die werking te verstaan van die meganismes wat die ontwikkeling van vals oortuigings en denkbeeldige herinneringe onderlê.

Dr. Kimberley Wade van die Departement Sielkunde aan die Universiteit van Warwick het bewys dat indien ’n fiktiewe gebeurtenis aan ’n persoon voorgehou word en hy dit herhaaldelik visualiseer, helfte van mense geneig sal wees om te begin glo dat dit wel plaasgevind het.

Vals outobiografiese herinneringe is geplant by 400 deelnemers aan ‘n studie.  Dit het gebeure ingesluit wat nooit werklik plaasgevind het nie, soos dat hulle ‘n lugballon-rit onderneem het, ’n poets gebak het op ’n onderwyser of chaos op ‘n familietroue veroorsaak het. Ongeveer vyftig persent van hulle het uiteindelik geglo dat hulle dit wel beleef het: 30% het klaarblyklik die gebeure “onthou” – hulle het uitgebrei op wat gebeur het en beskryf hoe hulle dit beleef het. Nog 23% het aangetoon dat hulle tot ’n mate die gebeure aanvaar en glo dat dit wel plaasgevind het.

Volgens Dr. Wade is dit ’n bekende feit dat baie faktore vals oortuigings en herinneringe kan skep, bv. visualisering van vals gebeure of die wys van foto’s om die “geheue te verfris”. Dit is besonder moeilik  om te bepaal wanneer ’n persoon egte gebeure onthou en wanneer dit vals is – selfs in ‘n gekontroleerde navorsingsopset en soveel te meer in die werklike lewe.

Die bevindings kan vêrreikende gevolge inhou op baie gebiede. Dit plaas ’n vraagteken rondom die egtheid van herinneringe in forensiese ondersoeke, hofsake en terapiesessies. So ook kan die kollektiewe geheue van groepe mense of samelewings foutief wees, bv. as gevolg van verkeerde inligting wat deur die media vrygestel word. Dit kan ’n enorme invloed uitoefen op persepsies en gedrag.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1