Oksitosien is ‘n hormoon wat uitstluitlik by soogdiere aangetref word. Dit word deur die hipotallamus vrygestel en veroorsaak die vorming van die moeder-kind band asook die romantiese liefdesband tussen paartjies in ‘n vaste verhouding. Dit is ook bekend daarvoor dat dit angs verminder en gevoelens van tevredenheid, kalmte en veiligheid tussen liefdesmaats meebring. Oksitosien is noodsaaklik vir die oorlewing van soogdiere aangesien dit daartoe bydra dat hulle lede van dieselfde spesie buite hul onmiddellike familie vertrou, wat paring tussen onverwante lede van dieselfde spesie laat plaasvind. Sodoende word ‘n gesonder en meer diverse genepoel geskep.
Moederliefde
Dit is nie verrassend dat oksitosien net by soogdiere voorkom nie. Dit beheer die vrystelling van melk gedurende borsvoeding, is die snellermeganisme wat geboorte laat plaasvind en dra by tot die vorming van bande tussen lede van dieselfde spesie, wat by baie soogdierspesies, insluitend die menslike spesie, noodsaaklik is vir oorlewing. Oksitosien vlakke is hoër wanneer die moeder/kind band aanvanklik geskep word, waarna dit afneem. Oksitosien begin dus nie net die moeder/kind bandnei, maar is ook verantwoordelik vir die instandhouding daarvan. Navorsers het ook bevind dat hoe hoër die vlakke van oksitosien tydens swangerskap, hoe sterker is die band tussen moeder en kind na geboorte.
Romantiese liefde
Oksitosien is ook verantwoordelik vir die vorming van die romantiese liefdesband tussen paartjies in ‘n vaste verhouding. Wanneer ‘n paartjie bymekaar is word oksitosien afgeskei. Dit laat hulle tevrede, gelukkig en ontspanne voel en veroorsaak dat hulle mekaar vertrou – die basiese komponente wat nodig is vir ‘n suksesvolle liefdesverhouding. Wanneer die paartjie geskei is ervaar hulle skeidingsangs omdat oksitosien, wat die stressvlakke laag gehou het, nie meer vrygestel word nie. Groot hoeveelhede oksitosien word tydens seksuele omgang en orgasme vrygestel. Daarom versterk gereelde seksuele omgang tussen paartjies in ‘n vaste verhouding die romantiese band en ervaar hulle selfs meer skeidingsangs wanneer hulle van mekaar geskei word.
Die evolusionistiese voordele van oksitosien
Oksitosien help met die oorlewing van soogdiere deurdat dit stressvlakke laat daal en vertrouensvlakke laat toeneem, waardeur dit ideale toestande skep vir die vorming van sosiale bande tussen vreemdelinge van dieselfde spesie. Die vorming van sosiale bande tussen soogdiere van dieselfde spesie wat nie verwant is aan mekaar nie, wat ondersteun en in stand gehou word deur oksitosien, is die sielkundige meganisme wat mense help om hul neofobie (vrees vir enige iets nuuts of onbekend) te oorkom en wat dus lei tot aanwas van die menslike spesie en die vorming van sterk, lewenslange bande met totale vreemdelinge. Paring tussen nie-verwante lede van ‘n spesie is krities vir oorlewing van die spesie omdat dit ‘n gesonder en meer diverse genepoel skep.
Verder is die aanwesigheid van oksitosien by die moederfiguur uiters belangrik vir die oorlewing van soogdierespesies aangesien dit die moederinstink aanwakker, wat verantwoordelik is daarvoor dat die moeder melk en beskerming aan die suigeling bied tot hy groot genoeg is om op sy eie te oorleef.
Lewer kommentaar