Nuus Flitse

Musieksmaak verklap jou denkstyl

12427513 - music of mind

Hou jy van rustige jazz musiek en sielvolle snaarinstrumente, of is jy mal oor swaar metaal met harde dromme en kitare met distorsie? Die musiek waarvan jy hou kan gebruik word om jou denkstyl te voorspel, het navorsers aan die Universiteit van Cambridge bevind.

Musiek speel ‘n baie belangrike rol in ons alledaagse lewe. Ons word daagliks blootgestel aan verskeie tipes musiek, in allerelei style met uiteenlopende kenmerke, en ons beoordeel deurgaans of ons daarvan hou of nie. Navorsing gedurende die afgelope aantal dekades het getoon dat musieksmaak as ‘n voorspeller van sekere persoonlikheidseienskappe gebruik kan word. Navorsers het nou egter tot die gevolgtrekking gekom dat die tipe musiek waarvan mense hou ook gebruik kan word om hul denkstyle of kognitiewe style te identifiseer – en dat dit selfs meer akuraat as persoonlikheid kan voorspel van watter musiek hulle sal hou.Dr Jason Rentfrow, die senior outeur van die navorsingstudie , wys daarop dat hierdie tipe navorsing weereens beklemtoon dat musiek ‘n spiëelbeeld van die self is, met ander woorde jou emosionele, sosiale en kognitiewe self vind uitdrukking in die musiek waarvan jy hou.

Denkstyle of kognitiewe style

Die term kognitiewe style word deur sielkundiges gebruik om die manier waarop individue dink te beskryf. Vir die doel van hierdie studie het die navorsers die empatiserende-sistematiserende teorie gebruik om denkstyle te beskryf.

Empatie is die vermoë om die geestesgesteldheid van andere te identifiseer, te voorspel en toepaslik daarop te reageer. Sistematisering is die vermoë om sisteme te identifiseer , te voorspel en om daarop te reageer deur die reëls wat dit bepaal korrek te analiseer. Dit sluit natuurlike sisteme in, soos weerspatrone, abstrakte sisteme soos wiskunde en organisatoriese stelsels (klassifikasie) en tegniese sisteme soos die werking van ‘n meganiese motor.

Mense gebruik empatie wanneer hulle musiek luister en dan emosioneel en fisiologies daarop reageer, asook wanneer hulle musiek maak. Mense is geneig om te sistematiseer wanneer hulle musiek interpreteer en ontleed en probeer bepaal hoe al die elemente in ‘n musiekstuk in die geheel inpas.

Denktipes volgens die empatiserende-sistematiserende teorie

Volgens die empatiserende-sistematiserende teorie word 5 denktipes onderskei:

Tipe E: Hulle is meer empatiserend as sistematiserend
Tipe S: Hulle is meer Sistematiserend as Empatiserend
Tipe B: Hulle handhaaf balans tussen empatie en sistematisering
Ekstreme Tipe E: Hulle empatievlakke is bo-middeld met ondergemiddelde sistematisering
Ekstreme Tipe S: Hulle sistematisering is bo-gemiddeld en hulle empatie onder gemiddeld.

Die bevindings:

Musiekvoorkeure van die empatiseerders teenoor die sistematiseerders

Die resultate het getoon dat tipe E-persone (die empatiseerders) meer gehou het van rustige of bedaarde, pretensielose musiek soos R&B/Soul, volwasse kontemporêre musiek, en sagte rock genres, en minder van intense musiek soos punk, swaar metaal en harde rock genres. Tipe S-persone (die sistematiseerders) het weer meer gehou van intense musiek soos punk, harde rock en metaalklanke, en minder van sagte pretensielose musiek. Wat die musiek self betref het die empatiseerders snaarmusiek verkies, terwyl die sistematiseerders ‘n voorliefde getoon het vir kitare met distorsie, harde vinnige purkussie-instrumente, elektriese kitare en koperblaasinstrumente.

Liedjies wat die verskillende denkstyle verteenwoordig

Die navorsers identifiseer die volgende liedjies as voorbeelde vir die onderskeie denkstyle:
Hoog op empatie:
Hallelujah – Jeff Buckley
Come away with me – Norah Jones
All of me = Billie Holliday
Crazy little thing called love – Queen

Hoog op sistematisering:
Concerto in C – Antonio Vivaldi
Etude Opus 65 No 3 – Alexander Scriabin
God save the Queen – The Sex Pistols
Enter Sandman – Metallica

Praktiese waarde van die navorsing

David Greenberg, opgeleide jazz saksofoonspeler, wys daarop dat hierdie navorsing belangrike implikasies vir die musiekwêreld kan inhou in terme van marksegmentering en om bepaalde tipes musiek aan bepaalde individue te bemark.

Ten slotte noem Prof Simon Baron-Cohen, een van die spanlede, dat die navorsing kan bydra tot groter begrip vir mense aan die ekstreme punte van die empatie en sistematiseringskale, soos outisme lyers wat feitlik by uitstek baie sterk sistemateseerders is.

Gee jou mening

Lewer kommentaar

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.


*


Agter
UA-87163025-1